
In die hartjie van die Noord-Kaap, waar die landskap breed en oop is, is Bo-Karoo Opleiding (BKO) besig om die volgende generasie leiers op te lei. Twee van hierdie jong leiers, Rian de Necker en Pedri van Tonder, is sprekende voorbeelde van die toewyding wat die kampus kenmerk. As onderskeidelik die Voorsitter van die Studenteraad (SR) en die Onder Voorsitter en kaptein van die rugbyspan, speel hulle sleutelrolle in die vorming van die studentekultuur.
Die Voorsitter: Rian de Necker
Rian de Necker, 21 jaar oud, het 'n onkonvensionele pad na die voorsitterstoel geloop. Nadat hy matriek aan die CVO-Orania voltooi het het hy eers 'n jaar op 'n plaas naby Hartswater gewerk. Dit was hier waar sy neef hom aan die wêreld van elektriese toerusting voorgestel het. Hoewel hy aanvanklik die droom gehad het om Sol-Tech toe te gaan, het die hoë koste hom na BKO gelei, waar hy nou een van 21 studente is wat vir 'n elektriese kwalifikasie studeer. Ten spyte van die aanvanklike ompad, het Rian homself vinnig gevestig as 'n student met 'n doelgerigte ingesteldheid. Hy is gekies as SR-voorsitter vanweë sy betrokkenheid en leierseienskappe. “As ek iets besluit, gebeur dit,” sê hy, hoewel hy beklemtoon dat hy altyd na ander se idees luister. Saam met die ander ses SR-lede, wat uit vier verskillende koshuise kom, beraadslaag hy oor nuwe tradisies om die studentekultuur te verryk. Een van sy grootste dryfvere is om nuwe studente welkom te laat voel en 'n kultuur te skep waar almal 'n gevoel van trots en tuiste ervaar. As voorsitter is Rian se primêre taak om sy mede SR-lede te ondersteun en vergaderings te lei, maar hy vind ook tyd vir ontspanning. Hy is 'n kranige rugbyspeler en speel senter, wat verseker dat hy nooit verveeld raak nie. Saam met sy vriende in Vaalboskoshuis geniet hy die koshuislewe – van braais en visvang by Sandbaai en die VanderKloofdam tot die unieke plaaslewe-ervaring soos "boendoebashing" en die vang van springhase. Oor die toekoms is hy duidelik: as hy te oud raak vir elektriese werk, wil hy graag boer, net soos sy pa.
'n Kultuur van verbintenis
Beide Rian en Pedri se leierskap dra by tot die unieke kultuur van BKO. Rian se visie om 'n tweede huis vir studente te skep, sluit aan by die doelwitte van die gemeenskap waarin die kollege homself bevind – veiligheid en vryheid. Hulle is bewus van die verantwoordelikhede wat saam met die Orania-gemeenskap kom, en moedig studente aan om 'n bewuste leefwyse te handhaaf. Die studente se daaglikse lewe bestaan nie net uit akademiese pligte en sport nie. Tussen rugby- en muurbal, tafeltennis, vergaderings en jaarbeplanning, vind hulle tyd vir koshuisaksies en ontspanning. Die Studenteraad, met sewe lede wat uit vier verskillende koshuise kom, speel 'n deurslaggewende rol in die studentedinamika. Saam, en met die ondersteuning van die studente en personeel, is hulle besig om 'n omgewing te skep waar elke student kan voel asof hulle deel is van iets groter. Hul leierskap is 'n voorbeeld van hoe individuele passie kan bydra tot die kollektiewe doelwit van 'n sterk, samehorige studentegemeenskap. Met jong leiers soos Rian en Pedri, is BKO goed op pad om sy droom van 'n tweede tuiste vir al sy studente te bewaarheid.



