← Gemeenskap

· Deur Dr. Wikus Buys

Die versierde bruid: kultuur as heiliging – Augustus 2025

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is.”

Die versierde bruid – kultuur as heiliging – foto 1

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is.” Open. 21:2. Daar is baie beelde in die Bybel waarmee gelowiges aangedui word. Een daarvan is die van 'n vrou, spesifiek 'n mooigemaakte bruid. Deur die beeld van 'n versierde bruid leer die Heilige Gees ons baie dinge, ook wat dit beteken om ons kultuur voor God te heilig. Die woord 'kultuur' is 'n wye woord. Hier neem ons dit as enigiets wat die mens doen om die natuur te omvorm. In 'n sekere sin is dus alles wat ons doen eintlik kultuur, dit is ons manier van leef. As Christene weet ons dat ons hele lewe aan God toegewy moet wees. So leer die apostel Paulus ons: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.” 1 Kor. 10:31. Hierdie duimreël geld natuurlik ook vir volke. Ons moet dus ook in ons hele kulturele lewe altyd die heerlikheid van God op oog hê. Christus se trou vrou Om nou aan te sluit by die beeld van die versierde vrou: ons weet dat ons as gelowiges, wanneer ons voor God gaan verskyn, mooigemaak gaan wees. Die gelowiges is inderdaad Christus se trou vrou. Om het hier te make met twee dinge wat soos in gevlegde goue draad in die Bybel loop naamlik 'regverdigmaking' en 'heiligmaking'. Die Skrif leer dat ons lewe alleen deur geloof in Jesus Christus se persoon en werk reg voor God gemaak word. Wanneer jou lewe in Jesus Christus regverdig voor God is, dan wil die Here deur sy Heilige Gees jou hele lewe verder aan God verbind. Dit noem die Bybel heiligmaking. Om heilig gemaak te word is dat jou hele lewe tot God se beskikking gestel word. Jou hele lewe word dan 'n instrument in die grootmaak van God se wonderlike Naam en sy groot dade. Dit geld, soos genoem, ook vir 'n geredde volk in sy gelowiges. 'n Volk se kultuur, ons manier van lewe, word dus wesenlik beïnvloed of mens in Christus glo of nie. Gelowige mense weet dat hulle hele lewe, ook hulle volk se lewe, in Christus toegewy word aan God se bedoeling vir daarmee. Groot troos Dit gee ons 'n wonderlike troos maar ook 'n skerp vermaning. Wanneer dinge swaar gaan en wanneer die lewe soms sinloos lyk, dan kan gelowiges weet: in Jesus Christus het ons lewe sin. Dit moet die gelowiges ook aan die volke vertel, ook in hulle eie volk. God maak in Christus ons saak met God reg. Dit beteken dat nie net ons persoonlike sondes nie, maar ook ons volk se sondes ter wille van Jesus Christus vergewe kan word. Daarvoor is geloof nodig en 'n opregte vashou aan God se beloftes en eise. Ons volk is tans onder baie druk. Daar is baie mense wat ons wegwens en selfs in die see wil jaag. Ons troos as gelowiges is dat in Christus het ons lewe weer sin en betekenis gekry. Ons lewe nie verniet nie. In die redding van Jesus Christus lê daar vir ons 'n groot en wonderlike toekoms. Maar redding gaan nie sonder heligmaking nie. Voorberei vir ontmoeting As God iemand red, dan het God 'n bedoeling met so iemand se hele lewe. God heilig daarom die mens se lewe en gawes en werk om diensbaar te wees aan God se bedoeling. Dit het ook vir ons volk baie betekenis, en veral vir ons roeping hier op Orania. Die bruid van Christus word versier, sy word mooigemaak vir haar Man en haar troudag. Die versiering van die bruid word spesifiek deur die Heilige Gees gedoen. God se Gees berei toe en Hy maak Christus se bruid mooi vir Hom. God berei haar toe, Hy maak haar gereed en tref alle nodige voorbereiding. Hy voorsien in sy wonderlike genade alles wat nodig is om haar reg te kry vir haar volkome ontmoeting met Christus. 'n Volk wat 'n Christelike kultuur wil handhaaf, moet erns maak met hierdie optrede van die Heilige Gees, in ons persoonlike lewens en in ons volk se geskiedenis. Kultuur gaan oor heilige dinge, dit raak ten diepste God die Heilige Gees se voorbereidings wat Hy tref – ook in volke se lewe – dat hulle Christus volkome kan ontmoet. Die bruid is toeberei en versier. Hierdie mooi versiering beteken nie net dat alles ordelik reggemaak word nie, maar dat sy gedekoreer word. Die griekse woord beteken dan ook 'kosmetiek'. Dit sluit ook die kultuur handeling van volke in en dui op die kultuurskatte van geredde volke in hulle gelowiges wat hulle eer en skatte na die Koning toe aanbring. So staan dit in Open. 21:24,26: “En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin ... en hulle sal die die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.” Kulture lewe is meer as vermaak, kultuur handeling is meer as 'hoë kuns'. Dit is waar 'n volk in sy gelowiges hulle hele lewe – as volksgemeenskap – laat stel onder die invloed van die Heilige Gees, die Gees van Christus sodat ook die volkslewe toeberei kan word en met kultuur skatte versier kan word. 'n Gelowige volk weet dat sy God self voor sy troon gaan ontmoet, en sy het haar in haar gelowiges as bruid laat toeberei en versier vir hierdie ontmoeting. Die heiligheid en erns hiervan is aangrypend. Is alles wat ons doen in Orania gereedgemaak om na die bruilof met Christus saam te gaan?

Voorblad van Koerania - Augustus 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2025, bladsy 7

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar