Mens verstaan eers regtig hoe sterk Afrikaner-selfbeskikking werk die dag wat jy by ’n kombuis instap en en besef daar is ’n volledige regeringstelsel in plastiekbakke georganiseer. Nie parlement nie. Tupperware. Elke huis het daai kas. Jy maak hom oop en onmiddellik val drie deksels, ’n ou Cremora-blik en emosionele trauma op jou neer. Dis nie ’n kas nie, dis ’n argief van die volk. Die tannies bestuur hom soos ’n staatsdepartement. Die groot bakke onder. Die medium bakke links. Die “goeie” Tupperware agter vir kerkbasaar of wanneer die dominee kom eet. En wee die man wat sommer ’n oorblyfsel-bak vir skroefies in die garage gebruik. Dis basies ’n staatsgreep. Ek ken ’n oom wat vir twee dae uit die huis verban was omdat hy tamatiebredie in ’n “vrugteslaaihouer” gesit het. Want daar ís orde. Ons mense glo nie aan chaos nie. Dis hoekom selfs die Tupperware ’n grondwet het. En soos enige republiek het hy ook politieke spanning. Daar is altyd een deksel wat nie pas nie. Niemand weet waar hy vandaan kom nie, maar niemand gooi hom weg nie. Hy dryf vir jare deur die sisteem soos ’n klein opposisieparty, nutteloos, maar permanent teenwoordig. Dan kry jy die Margarine-party. Daai ou “I Can’t Believe It’s Not Butter”-bakke wat stadig die oorspronklike Tupperware infiltreer totdat die hele kas soos ’n koalisie-regering begin lyk. Dis goedkoop populisme in plastiekvorm. Maar die ware mag lê by die tannie wat die kas bestuur. Sy hoef nooit haar stem te verhef nie. Sy kyk net oor haar bril en sê: “Daai deksel hoort nie daar nie.” En skielik herstel orde vanself. Dis dalk hoekom Afrikaners so lief is vir klein gemeenskappe. Ons is van kleins af geleer dat oorlewing afhang van etikette, dissipline en om presies te weet waar die goeie bakke gebêre word. Die staat kan val. Die ekonomie kan brand. Eskom kan weer trip. Maar iewers in Suid-Afrika sit ’n tannie rustig spaghetti-bolognaise in ’n R299 Tupperware-bak en herstel die republiek met een klik-deksel op ’n slag. Ek is Wynvlieg Woltemade, en ek sit vanaand stil tussen ’n kas vol plastiekdeksels en die laaste bietjie skaapbredie, en wonder hoeveel van ons land eintlik deur tannies met goeie organiseervermoë aanmekaar gehou word.
· Deur Wynvlieg Woltemade
Die Tupperware Republiek
Elke huis het daai kas. Jy maak hom oop en onmiddellik val drie deksels, ’n ou Cremora-blik en emosionele trauma op jou neer.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2026, bladsy 2
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


