Ek hoor alweer dit gons in Orania en die tonge is los. Nie oor vlugtelinge nie, of daai Amerikaner met die wit baard wat Engels kom praat het nie, maar oor teer. Ja, teer… Die nuwe teerpad op Diamantlaan, die pad wat Oewer toe loop, is besig om bietjie vir bietjie ’n donker streep deur Orania te trek. En soos met enige groot gebeurtenis in ’n klein gemeenskap, het almal skielik ’n mening. Nie noodwendig oor die teer self nie. Die teer is welkom. Baie welkom. Veral vir die mense wat al met ’n skoon wit bakkie Oewer toe gery het en met ’n stoflaag teruggekom het wat jou laat wonder of jy intussen aan ’n veldtydren deelgeneem het. Nee, die vrae gaan oor die belangriker dinge. Wie het besluit? “Hoek-om” hierdie pad? Hoekom nie daardie pad nie? Wie betaal? Wanneer is dit klaar? En, natuurlik, die groot een: wanneer kom die teer voor ons huis verby? Want ons Afrikaners hou daarvan om self te doen. Ons bou self, betaal self, borg self en monitor self. Maar terwyl ons besig is om self te bou, wil ons ook graag weet presies wie waar bou, hoeveel dit kos, hoekom dit daar gebou word en waarom ons eie blokkie nog nie aan die beurt gekom het nie. Die teer kom dus nie sommer net nie. Dit kom met ’n vergadering, ’n bespreking, ’n sakrekenaar en minstens drie mense wat langs die pad staan en kyk of die dikte van die teer reg lyk. En kyk hier, as ’n Afrikaner eers ’n sakrekenaar uitgeruk het… “Ek sê jou, hulle moes eintlik dáár begin het.” “Ja, maar dan sou die mense dáár gekla het.” “Nou kla die mense hier.” “Dis mos hoe ontwikkeling werk.” ’n Miljoen hier, ’n miljoen daar en siedaar, ons het ’n pad. En as die pad eers begin, wil almal hê dit moet môre klaar wees. Ons is mos ’n volk wat glo aan selfdoen, maar ook aan onmiddellik-doen. Dié projek is deel van daardie lekker selfdoen-gees. Mense kan ’n blokkie pad borg en só help om die pad vorentoe te trek. Koerania24 het ook sy deel gedoen. 973 en 993. “Dis myne daai.” “Nommer 993.” “Ek het 973 ook.” “Mooi.” “Ja, maar hulle het nog nie daar geteer nie…” En daar lê die hele saak sommer netjies opgesom. Ons wil ontwikkeling hê. Ons wil hê Oewer moet groei, besoekers moet kom en mense moet "skoon" daar uitkom. Ons weet die pad is nodig. Ons weet sulke dinge gebeur nie alles oornag nie. Maar ons wil ook graag die hele proses dophou, bespreek en, indien moontlik, effens versnel. Ek is Wynvlieg Woltemade, en ek sit vanaand terug en kyk hoe die donker streep verder trek. Ek luister hoe die tonge gons en wonder watter blokkie volgende aan die beurt is. Want in Orania kom die pad. Bietjie vir bietjie. Die teer saak is net: jy kan steeds nie met ’n skoon kar op die pad na die Oewer toe ry en terugkeer sonder om hom weer te moet was nie…
· Deur Wynvlieg Woltemade
Die Teer Rooi Pad Saak
Ek hoor alweer dit gons in Orania en die tonge is los.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2026, bladsy 2
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


