Francois van Schalkwyk, Voorsitter van die Orania Rolbalklub, kon namens die bestuur bevestig dat die langverwagte ooreenkoms tussen die Orania Aandeleblok (OAB) en die rolbalklub nou onderteken is. Dit na maandelange onderhandelinge, voorskrifte, wysigings en die uiteindelike afronding van die bewoording in die ooreenkoms vir die beoogde rolbalterrein by die Orania Sportterrein. Daar heers tans wye belangstelling vir `n rolbalbaan in Orania wat deur Oraniërs, besoekers, skoliere en studente gebruik kan word. Die klub is daarvoor verantwoordelik om die jaarlikse huur van die terrein vooruit te betaal. Die bestuur en lede het 18 maande grasie om `n rolbalbaan op eie koste te vestig. Die eerste grondwerke het op 21 Januarie reeds begin om die eerste rolbalbaan se uitleg voor te berei. Die klub se bestuur sal voordurend vergaderings hou om die proses te bespreek en te bespoedig. Die klub beoog teen die einde van Februarie `n ledevergadering vir promosie, fondsinsameling en ledewerwing. Omdat die lede van die klub die baan op eie koste moet vestig, is die klub baie afhanklik van elke lid se hulp en geldelike bydrae. Party instansies het ook reeds fondse geskenk waarvoor die klub baie dankbaar is. Indien enige lid van die gemeenskap by die klub wil aansluit kan Francois by francoisvs57@outlook.com gekontak word. Lidmaatskap beloop ф100 per maand. Indien enige persoon, instansie of besigheid `n donasie wil maak, materiaal wil skenk of enige ander bydrae wil lewer kan hul met die klub se projekbestuurder en tesourier, Hans Richardt, per WhatsApp by 060 304 3460 of epos by richardt55.hr83@gmail.com skakel.
· Deur Koerania-redaksie
Die rolbalbaan se planne rol voort
Daar heers tans wye belangstelling vir `n rolbalbaan in Orania wat deur Oraniërs, besoekers, skoliere en studente gebruik kan word.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2025, bladsy 12
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


