← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Die pad deur die woestyn: Ernst van Zyl besin oor Afrikaners se toekoms

Hy het die woestyn beskryf as 'n plek wat onherbergsaam is, waar wet en orde opdroog, en waar plattelandse dorpies sprekende voorbeelde van verval is.

Ernst van Zyl
Ernst van Zyl

Die Vryheidstigting het op Dinsdag 9 September hul 50ste HF Verwoerd gedenklesing aangebied, waar die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur, Ernst van Zyl, die gehoor toegespreek het. Onder die tema “Afrikaners en Woestyne,” het Van Zyl, Hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum en met 'n Meestersgraad in Politieke Wetenskap, die uitdagings en veerkragtigheid van die Afrikanervolk bespreek. In sy toespraak het Van Zyl verwys na die gedig “Die doringboompie” van Totius en die doringboom as 'n metafoor gebruik vir 'n volk wat gehard is en in die woestyn kan floreer. Hy het die woestyn beskryf as 'n plek wat onherbergsaam is, waar wet en orde opdroog, en waar plattelandse dorpies sprekende voorbeelde van verval is. Dit is 'n woestyn van wanorde, maar ook 'n plek waar ons kultuur en veerkragtigheid getoets word. Volgens Van Zyl het buitelandse waarnemers voorspel dat Afrikaners op 'n kronkelende en stowwerige pad is, maar dat hulle verstom is met die veerkragtigheid en vermoë van die Afrikaner om terug te bons. Hierdie geharde kultuur van aanpassing en die vermoë om te floreer in moeilike omstandighede, is die ware krag van die volk. Hy het verder beklemtoon dat die krag van kultuurorganisasies lê in die vermoë om yl verspreide individue bymekaar te bring. Die hedendaagse “woestyn” is egter nie net 'n fisiese plek nie, maar ook 'n digitale een. Volgens Van Zyl kan 'n mens maklik vasgevang word in die wêreld van simulasies en valse werklikhede. In hierdie woestyn is 'n werkende kompas krities. Hy het Afrikaners aangemoedig om werklike oplossings na te streef en nie te verval in perfeksionisme, oordadige ontledings, of leë gesprekke wat nie tot aksie lei nie. Van Zyl het afgesluit met 'n kragtige boodskap van hoop en realisme: “Ons moet bereid wees om te sukkel en nie die gerieflike uitweg kies nie.” Hy het Orania as voorbeeld gebruik en gesê dat om te groei, Afrikaners bereid moet wees om luu kshe de pr ys te ge e en slegs die noodsaaklikhede vir die reis deur die woestyn te pak. Die belangrikste items in die noodhulptas moet geloof, gesin, kultuur, taal, identiteit en vryheid wees. Hy het gesê dat die Afrikaner 'n positiewe toekoms kan bou, 'n "kanniedoodkultuur," en dat ons voorvaders bewys het dat ons nie opgee nie. Ons moet op aanpasbaarheid fokus en waardering herontdek vir klein suksesse, terwyl ons geloof, moed en koers hou. Hy spreek die vertroue uit dat die Afrikaner se planne mense wat nog buite staan se verbeelding sal aangryp, en dat die planne nooit mag opraak nie. Dr Wynand Boshoff het repliek gelewer en die verrigtinge is afgesluit met die Roepstem van Orania.

Dr Wynand Boshoff
Dr Wynand Boshoff
Voorblad van Koerania - September 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2025, bladsy 8

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar