Alida Kok, departementshoof: Sosiale Wetenskappe by Akademia, het in haar aanbieding gefokus op die gesin as die fondament van ’n gesonde samelewing, en hoe dit inpas by die federale gedagte. Volgens haar is die huisgesin nie net ’n sosiale eenheid nie, maar ook ’n politieke eenheid. Sy het die vraag ondersoek: Hoe word ’n politieke lewe gehuisves? In haar besinning het sy beklemtoon dat die gesin die plek is waar burgerskap begin en waar die eerste vorms van selfregering en verantwoordelikheid aan kinders oorgedra word. Deur die opvoeding van kinders, die bestuur van huishoudings en die handhawing van gesinswaardes, speel die gesin ’n fundamentele rol in die breër politieke lewe. Daarin het sy ook op die punt die siening van Hannah Arendt gekritiseer. Kok het verder aangevoer dat, in ’n federale struktuur, die rol van die gesin noodsaaklik is om plaaslike gemeenskappe te bou wat onafhanklik en selfregerend kan wees. Die federale gedagte is nie net van toepassing op politieke instellings nie, maar ook op die private sfeer, soos gesinne. Sy het daarop gewys dat die gesin as ’n miniatuurvorm van politieke selfregering funksioneer en dat die gesondheid van gesinne deurslaggewend is vir die gesondheid van die breër gemeenskap en federale strukture.
· Deur Alistair van Heerden
Die gesin en politieke lewe – Alida Kok se beraadbydrae, September 2024
Volgens haar is die huisgesin nie net ’n sosiale eenheid nie, maar ook ’n politieke eenheid.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2024, bladsy 1
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar

