“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.” Ps. 127:1 Hierdie psalm herinner ons daaraan dat mense se werk, sonder God se hulp, op niks uitloop. Die Bybel leer ‘n baie nou verband tussen God se werk en mens se werk. Wanneer mens met bouwerk besig is, geld hierdie waarskuwing altyd. Wanneer ‘n volk ‘n nuwe stad en streek wil bou, moet ons dit soveel te meer ter harte neem. Die Here Jesus het immers gewys op die verskil tussen bouwerk wat in geloof gedoen word en bouwerk wat in ongeloof aangepak word. “Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.” (Mat. 7:24). Wanneer mens jou lewenstaak aanpak en op die Rots, Jesus Christus bou, deurstaan dié bouwerk ook storms en stote van die wêreld en die duiwel. God bewaak sy bouwerk Die Here pas ook sy eie bouwerk op. Dit is iets waarmee die Heilige Gees spesifiek by betrokke is. Die Here waak oor sy bouwerk. Die Hebreeuse woord vir “bewaar” beteken om nougeset en met oplettendheid ‘n groot skat op te pas. Wat is so waardevol, wat maak iets die moeite werd om op te pas? Ons as mense het natuurlik ons eie redes waarom iets of iemand vir ons waardevol is. Maar Psalm 127 wys in profetiese taal die stad Jerusalem, spesifiek die Sionsberg waar die tempel van God gestaan het, as waardevol aan. Wat maak dit nou so waardevol? Die antwoord: God woon daar. (Jes. 8:18). Voor die koms van Christus het God die plekke gekies waar Hy sy Naam sou openbaar en sy heerlikheid sou toon. Die plekke word in die Bybel vir ons gewys, eers Silo, en toe die tabernakel, toe die tempel van Salomo in Jerusalem. Uiteindelik is dit alles vervul in die koms van Jesus Christus wat met die Heilige Gees gesalf is en op Hom gebly het. In Joh. 1:33 getuig Johannes die Doper: “... Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.” Kinders van God is die lewende stene waarmee God sy huis bou. Soos wat dit in die Ou Testament vooraf geprofeteer is deur die stad Jerusalem en die tempel, so word dit werklikheid in die gelowiges se lewe in die Nuwe Testament. God is heilig jaloers op sy blyplek, op sy mense, op sy woning waaraan Hy sy Naam gekoppel het. God bewaak sy heiligheid en sy heerlikheid. Daarom geld die Goddelike reël nou nog vir die woonplek van God by die mense: ‘As die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter’. Wat pas ons alles op? Daaruit kom waarskuwing en troos. Ons kan keer en oppas soveel ons wil – as die Here nie die basis is van dit wat vir ons belangrik en kosbaar is nie, dan werk ons verniet. Dan bou ons tevergeefs, dan kan ‘n hele volk se werk tot niks kom. Laat elke geslag dit as ‘n waarskuwing voor oë hou: is die goed wat jý oppas, ook die goed wat God se Gees wil oppas. Mens kan ook sondes bewaar, jy kan sondige gewoontes oppas om dit te wil behou. Ons bou met ‘n nuwe arbeidsetiek aan Orania. Laat ons weet dat ons daarin nie dinge moet oppas wat God nie self met sy Gees in ons wil bewaar nie. Die sonde van uitbuiting van goedkoop arbeid is iets wat die Heilige Gees beslis nie in bewaring hou nie. As die Here ons stad nie bewaar nie, is al ons dade vir die wind. Ons mag egter ook as Oraniërs groot troos daaruit put dat die Gees van Christus onder ons woon en werk. Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus kom die inwoning van die Heilige Gees in mense se lewe na vore. God woon in sy kinders. God is naby die wat Hom vrees. Hoe onbeskryflik ryk en troosvol is dit – ook vir mense wat ‘n stad en ‘n staat wil bou. Die Gees van Christus pas self die stad op waar God bly. Laat ons met volle vertroue werk en bou want ons weet: ons werk nie tevergeefs nie, solank as wat ons op die Rots Christus bou en sy Gees in ons lewe.
· Deur dr Wikus Buys
Die Gees van Christus pas ‘n stad op – Maart 2026
“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.”

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2026, bladsy 12
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


