
Dr Carel Boshoff is 'n filosoof. Hy erken dit ruiterlik. “Toe ek filosofie die eerstekeer raakgeloop het, het ek geweet dit is my ding.” Hy vertel hoe hy en sy pa, prof Carel Boshoff wat 'n teoloog was, lank oor die dieper dinge en die vrae van die lewe kon gesels. Van hom het hy geleer dat mens se lewens- en wêreldbeskouing uit jou antwoorde op vrae soos: wat is God? wat is mens? wat is tyd?, wat is lewe en dood? bestaan. Vir iemand wat eers 'n ingenieur wou word en toe predikant, was die gravitasie na filosofie net té groot. Hy het wel die BA (Teologie) verwerf, maar toe met Wysbegeerte voortgegaan. Carel vertel dat hy ander temas oorweeg het, aangesien hy vir 30 jaar die werk van denkers soos Hannah Arendt, Charles Taylor en Josef Pieper lees. “Mens formuleer jou tema soos jy denkpad gaan,” sê hy. Toe mentor Danie Goosen vir hom die boek 'Het rijk van de schaarste' aanbeveel, het dit sy belangstelling geprikkel. Verskeie boeke en denkers wat met die vraag van skaarsheid en oorvloed worstel, het daarop gevolg. Een van sy ontdekkings was dat skaarsheid een van die eienskappe van die moderne wêreld is en dat die oplossings daarbuite lê. “Die spoor na skaarste lei na die moderniteit en die spoor na oorvloed na die ou tyd en na ons tradisie. 'n Ander moderniteit is moontlik en Orania is 'n wonderlike voorbeeld daarvan.” Volgens Carel is die mens nie in die eerste plek 'n ekonomiese wese nie, maar 'n diep geestelike wese wie se geluk bepaal word deur sy plek in die geheel van dinge. “Daar is steeds rampe, maar uit die hand van 'n oorvloedige skepper. Dit is 'n ONTOLOGIESE skuif. Die versteekte perspektief is wat raakgesien moet word. Strategieë is nodig om agterdie tekorte wat ons ervaar die moontlikheid van oorvloed te sien. “Wanneer jy na bo kyk, dan sien jy bo-oor skaarsheid.” “Skaarste is die gevolg van begeerte, en begeerte is die gevolg van nabootsing. Moderne mense aanvaar nie maklik gesag nie, maar dit is juis wat ons nodig het, gesag en hierargie. As jy jou begeerte kan beteuel word jou hartstog 'n bron van energie.” Dié boekwurm sê dat mens moet doen wat jy die beste doen. “As ek iets wil nalaat sal dit by wyse van skryfwerk moet wees. My ma het my wysgemaak dat ek uithouvermoë het, nou het ek dit nodig.” Studeer en navors was nog altyd deel van sy denkproses. Hy het onlangs op die Christelike denker Alistair MacIntyre gefokus en wil die lesings wat hy by Akademia daaroor gelewer het nou in 'n publikasie wil omskep. “Dit sluit aan by die herwinning van ons Afrikaanse tradisie in die vorm van Christelike Nasionalisme. Dit is 'n 150 jaaroue verhaal van ons denkgeskiedenis.” 'n Geslaagde tradisie het sekere uitgangspunte en spannings waarop jy nie altyd antwoorde het nie, maar deur dit gereeld te herformuleer, is daar tog vooruitgang.
Ontologie is 'n studie van die aard van die wese, die realiteit en die substansie van dinge. Dit bestudeer ook die wese of realiteit in die abstrakte, veral in die manier hoe dit verband hou met idees en teorieë. Dit dui aan wat objektiewe en subjektiewe bestaan konstitueer en wat dit beteken vir iets om te bestaan. – Wikipedia
Carel sien daarna uit om sy verhandeling te publiseer, al sal dit dalk 'n beperkte gehoor aanspreek. “Ek hoop om meningsvormers en besluitnemers toe te rus met 'n denkraamwerk wat die werklikheid in 'n ander lig sal stel.” Hy wil 'n sin vir idealilsme terugbring, 'n sin vir groter strewes en offervaardigheid. Groter ideale. Dr Carel 4 antwoord dat hy soms verplig voel om, as gevolg van sy pa se droom en nalatenskap, in Orania te woon. “Daar is egter geen spanning tussen my plig en my plesier nie. Dit is 'n menslike ding dat jou plig soms swaar op jou lê, maar dit kan ook 'n vreugde wees. Vir my is dit 'n oorvloedige nalatenskap.” Populêre reklame hou aan ons 'n sorgelose bestaan voor, maar as volwasse mens besef mens dat plig en plesier verweef is. “Orania is geen Utopia nie, want dit sou 'n ander Orania wees, en daar is net een.” Dr Carel Boshoff glo in 'n goeie werklikheid, 'n Godsgeskenk wat dankbaar ontvang word. Dit is 'n geloofsdaad.




