← Gemeenskap

· Deur dr Wikus Buys

Christus regeer vanuit sy troon oor Orania – Mei 2026

Die Hemelvaart van ons Here Jesus Christus is sy groot troonbestyging in die hemel.

Christus regeer vanuit sy troon oor Orania – foto 1

“God vaar op met gejuig ... Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing. Want God is Koning van die hele aarde ... God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon.” Psalm 47:8-9. Die Hemelvaart van ons Here Jesus Christus is sy groot troonbestyging in die hemel. Dink daaraan: ‘n mens in die hemel as ewige Koning oor die aarde. Die Bybel begin met die woorde: “In die begin het God die hemele en die aarde geskep” (Gen. 1.1). Daardeur leer die Heilige Gees ons heel van die begin af dat die hemel en die aarde bymekaar hoort, omdat God hulle geskep het om aan mekaar verbind te wees. Met die sonde verbreek die mens hierdie band tussen hemel en aarde. Allerhande dwase gedagtes ontstaan daardeur by die mense oor die hemel en die aarde: - Sommige, soos die sosialiste en kommuniste van ons dag, sê hulle gee nie om vir ‘n hemel daarbo nie. Hulle soek ‘n hemel hier op aarde deur ‘n werkers paradys te vestig. Hulle sal dit doen deur alle werkers en werklose mense bymekaar te snoer en ‘n super owerheid vorm wat vir almal betyds en genoeg brood sal voorsien. - Ander mense sê weer die hemel is belangriker as die aarde, Christene moet nèt konsentreer op die hemel. Wat op die aarde gebeur, ook die onreg, veral die onreg wat as gevolg van arbeidspraktyke instandgehou word, is nie nou van belang nie. Hierdie mense vergeestelik die hele lewe, en sê eintlik die aarde se lewe is maar buitendien swaar mens moet maar wag tot die hemel aanbreek. God wil op aarde woon Op Orania loop die pad na die hemel egter regoor en regdeur die aarde: dit is wat die Hemelvaart van Christus getuig. Daarom is dit op Orania ook ‘n publieke vakansiedag. Dit laat ons stilstaan, dit laat ons dink. Wat beteken Christus se Hemelvaart vir ons, ons is immers nie kommuniste nie en ons sit nie net en wag vir die hemel nie. Ons werk op Orania omdat Christus opgestaan en hemel toe gegaan het. God handhaaf sy bedoelde band tussen die hemel en die aarde. Die Bybel ken drie betekenisse van die woord ‘hemel’: die hemel as huis van God, die engele wêreld en die blou koepel, die lug bo ons. Ons kyk hier net na God se huis. God wil nog altyd dat sy hemel huis op die aarde vestig. In Genesis 1:2 as die Gees van God oor die waters sweef is dit al die bedoeling. God stuur uiteindelik sy Seun om ‘n ware mens te word en vestig deur die uitstorting van die Heilige Gees sy Koninkryk op aarde. Uiteindelik sal die Seun sy Koninkryk volledig aan die Vader oordra [1 Kor. 15:25]. Ons leef in die tydperk waar die Seun nou aktief regeer vanuit sy hemel troon. Met die Hemelvaart het Jesus Christus aan die regterhand van die Vader sitting geneem van sy regeringsetel. Die Here regeer, oor hemel en aarde, oor alles en almal. Jesus Christus alleen is volledig soewerein. So getuig Hyself dat die Vader alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom gegee het. Christus die Koning regeer. Hy het reeds sy regeer plek in die hemel ingeneem. Met die uitstorting van die Heilige Gees, en met die wedergeboorte wat die Gees skenk, maak Christus vir Hom en sy Vader onderdane wat sy alleen regering erken. Net Christus is soewerein Dit is wat Orania tans uniek maak. Dit kan nie maar net wees dat ons Hemelvaart formeel as publieke Christelike vakansie dag inrig nie, ons moet die uitwerking daarvan in alle aspekte snap.

Christus regeer Orania – dit is wat ons ten diepste bely. Dit is ‘n geweldige stelling teenoor die soewereiniteit aanspraak van die Suid-Afrikaanse nasie staat wat beweer dat dit soewerein is. Christus regeer oor ons in Orania – ons erken dit en buig gewillig daaronder. In die komende grondwet van Orania behoort diè belydenis ‘n prominente plek te hou. Maar by woorde mag dit nie bly nie, dit moet in ons alledaagse praktyk ook blyk. God se Woord het immers nie net by praat gebly nie. God se Woord het vlees geword, sy Woord het mens geword. God se regering is regtig. Sy hemelse uitspraak oor Homself en sy skepping- en reddingswerk het inderdaad ‘n mens op aarde geword. Soek sy wil in alles God bly verbind aan die eenheid, sý eenheid, tussen hemel en aarde. Ons het nie die reg om die aarde, ook ons stukkie aarde op Orania, te ontkoppel aan die hemele nie. Ons het nie die reg om self te regeer asof God nie bestaan nie. Inteendeel, ons selfregering as politieke doelwit moet gerig en gelei wees deur die werklikheid van die Hemelvaart van die Here Jesus Christus. ‘n Ware mens in die hemel, Hy bring die huis van God na die aarde toe. Deur die uitstorting van die Gees en die inwoning van die Gees in mense reik God se regering tot alle uithoeke van die aarde uit. Dis wat die Hemelvaart psalm ons leer. Psalm 47 (berym) sing: ‘Die Here het opgevaar, Koning is Hy daar.’ Laat ons op Orania Jesus Christus se Koningskap in alles soek. In hoe ons ons volksgemeenskap hier inrig, in hoe ons werk en met mekaar werk, in hoe ons met ander mense van ander gemeenskapsgroepe omgaan. Laat ons ons plek hier in Afrika inrig met die vaste wete: Jesus Christus is ons Here en Koning. Hy regeer. Daar sal nie ‘n haar van ons kop val as die nie sy wil is nie. Hy is in beheer. Laat ons sy wil soek in alle dinge – ook en veral – as ons ons lewende getuienis lewer aan ons mede-Afrikaners wat nog oorkant die rivier leef, wat God werklik bedoel met die woorde in die vierde gebod: Gedenk die Sabbatdag, ses dae moet jy arbei, en al jou werk doen. Ons mag die hemel en die aarde nie losmaak van mekaar nie. Ons mag nie kies tussen die twee nie. God wil sy hemel huis op aarde inrig. Hoe lyk ‘n Orania, hoe lyk ‘n stad, hoe lyk ‘n streek, hoe lyk ‘n Christelike Afrikaner republiek wat besig is om onder leiding van die Heilige Gees onder beheer van Jesus Christus God die Vader se huis so in te rig waar ons bly? Wat ‘n ontsaglike roeping. Wat ‘n groot voorreg. Jesus Christus het opgestaan. Hy het sy troon in die hemel bestyg. Jesus Christus regeer Orania – dis wat Hemelvaart beteken.

Voorblad van Koerania - Mei 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2026, bladsy 10

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar