
Die Here Jesus het ‘n baie bekende gelykenis vertel van twee mans wat elkeen ‘n huis bou (Lukas 6:46-48). Alles was by al twee presies dieselfde, behalwe die fondament. Die een man, die wyse een, het diep gegrawe deur al die sand, totdat hy by rots uitkom. Op dié rots het hy toe sy huis klaar opgerig. Die dwase man, bou sonder ‘n fondament op sand. In Orania is ons besig om te bou. Daar is baie planne en dis harde werk. Uit die Here Jesus se gelykenis kan ons baie leer oor hoe ons moet bou. Ons lig ‘n paar dinge uit: Woorde en werke Die gelykenis het die Here Jesus vertel na aanleiding van wat mense vir Hom sê: “Here, Here”, maar hulle dade wys dit nie. Die eerste saak om te leer is dat indien mens met God die pad wil loop, dit ten eerste beteken dat mens moet doen wat Hy sê. God praat met ons deur sy Woord en Gees. Dit help nie mens wil ‘n pad met God stap, jy wil ‘n suksesvolle toekoms bou, maar die een basiese ding kom kort nie: ons moet vir die Here luister. Dit beteken dat ons sy Woord, die Bybel, ernstig moet opneem vir ons hele lewe. Dit is die groot verskil tussen ‘n wyse mens en ‘n dwaas. ‘n Dwaas het ‘n spesifieke domheid aan hom. Psalm 14:1 leer dit baie duidelik: “Die dwaas sê in sy hart: daar is geen God nie.” Dwaasheid kom ook onder slim mense voor. Mense wat dink dat hulle beter weet as God, en dat hulle sy Woord nie in ag hoef te neem nie. Om vir die Here met jou mond te sê: “Here, Here”, maar jou werke wys dat jy optree asof Hy nie bestaan, en asof Hy niks te sê het oor ons werke nie, is praktiese dwaasheid. Orania se nuwe grondwet
Dit is die groot verpligting wat ons as Oraniërs op onsself gelê het met die aanvaarding van die nuwe grondwet van Orania verlede maand. Daarin betuig en verklaar ons openlik: Jesus Christus is die Here en Koning oor alles. Daarmee sê ons as gemeenskap dus vir God se Seun: “Here, Here.” Laat ons bouwerk van ons hande, nou pas by die hartsuitspraak van ons mond. Die Bybel leer ons duidelik dat geloof en werke nou verbind is aan mekaar. As protestantse gemeenskap doen ons nie goeie werke om God te probeer beïndruk dat Hy ons in die hemel inlaat nie. Ons sê: “Here, Here” omdat Hy eerste na ons toe gekom het, en sy genade aan ons bewys het. Dit het Hy gedoen deur sy Seun se kruisdood en die uitstorting van die Heilige Gees. God gee deur die wedergeboorte, deur die doop met die Heilige Gees, aan ons ware geloof. Geloof wat in dade te voorskyn kom. Geloof is om God op sy Woord te vat. Om te luister, en te doen wat Hy sê. Christus is ons fondament Die tweede ding wat ons leer uit die Here Jesus se gelykenis is dat die twee huise, natuurlik behalwe hulle fondament, dieselfde mee gebeur. Dieselfde storms en winde gaan oor albei huise heen. Dit moet ons op Orania ook weet. Die Bybel leer dit reën oor die regverdige en die onregverdige. Beproewings sal daar ook vir ons in Orania wees. Die beproewings is juis ‘n toets. Die toets of daar ware geloofswerke betrokke was by die bouwerke. Wat maak dan nou die verskil tussen die twee huise, want die een bly staan en die ander een word weggespoel? Die fondament maak die verskil. Om op sand te bou is dwaas. Dit beteken om vir jouself, en selfs vir jou nageslag ‘n toekoms te probeer bou, sonder om te hoor en te doen wat God sê, dwaasheid is. Die einde van jou onderneming se uitslag is vooraf bekend: dit sal nie standhou hou nie. Dit is waarom Orania se voorbeeld so belangrik is nie, nie net vir die res van ons Afrikaner volk nie, maar ook vir baie ander volke in Afrika en regoor die wêreld. Daar is baie gemeenskappe wat worstel en stoei met selfbeskikking. Orania doen dit ook. Ons wil ook ‘n huis van selfbeskikking bou om vry in te leef. Ons wil ook die dorp tot ‘n stad opbou, die streek ontwikkel en uiteindelik ons Afrikaner republikeinse staat uitroep. Dis ons huis wat wil ons wil bou. Sonder Christus beteken al hierdie planne egter niks. Christus is die Rots waarop ons moet bou. God self moet die Boumeester wees van ons bouprojek. Dan sal ons deur die sand grawe en vastigheid kry in ons onderneming. Daar is een ding waarmee die Here met Orania besig is wat baie nuut en anders is. Orania, ook op skrif in ons grondwet, het aanvaar dat ons werk as volk ‘n dankoffer aan die Here moet wees. ‘n Dankoffer omdat ons Christus ken, omdat ons vervul is met die vrug van sy geregtigheid (Fil. 1:11). Reformasie - nie rewolusie Dit is inderdaad ‘n daad van reformasie wat besig is om deur te breek in ons leeftyd. ‘n Volk wat vir die eerste keer self hulle werk doen as dankoffer aan God. ‘n Bekering daarvan om gedurig ander volke in te span om vir ons die swaar werk te doen, terwyl ons self vry wil wees. Dit gaan nie maklik wees om hierdie reformasie te volvoer nie. Die winde en storms – ook van die sosialistiese en kommunistiese rewolusie, gaan ook oor ons koppe woed.
As ons volkshuishouding vanuit Orania grondvas op die Rots Jesus Christus gebou is, dan sal God self die verskil aantoon tussen ‘n dwase gemeenskap wat sonder en teen God wil bou (en breek), en ‘n wyse gemeenskap wat op Christus die Rots wil bou. Daar is ‘n reuse verskil tussen Reformasie en Rewolusie. Ons is nie dwase rewolusionêre nie. Laat ons op Christus, en op Hom alleen, bou. Dan sal ons huis staan. Dan sal dit blyk dat God self sy hand se seën oor ons uitsprei. Die toekoms van Orania staan of val by ons werk. Werk wat op die Rots bou, of werk in die wind as ons God ignoreer. God het aan ons hierdie wonderlike, maar soms swaar en moeisame taak opgelê, om ons volk se arbeidspraktyk te reformeer na sy Woord. Dit is inderdaad ‘n groot baken in ons geskiedenis. Laat ons dan op die gelykenis woorde van ons Here Jesus ag slaan. Sand of rots - waarop bou ons? Ons het met ons nuwe grondwet gesê dat Jesus Christus die enigste ewige Rots vir Orania is. Laat ons werke van bou nou pas by ons woorde van belydenis.




