← Sport

· Deur Dia van Staden

Celri mik vir sportskieter-kolskoot

Celri Jacobs is besig om haar eie pad oop te skiet met haar unieke sportkeuse, en sy geniet elke oomblik van die persoonlike uitdagings wat dié sport bied.

Celri mik vir sportskieter-kolskoot – foto 1

Celri Jacobs is besig om haar eie pad oop te skiet met haar unieke sportkeuse, en sy geniet elke oomblik van die persoonlike uitdagings wat dié sport bied. Gewapen met 'n luggeweer wat met 'n gasmengsel aangedryf word, mik hierdie jong sportskieter vir niks minder as goud nie. Celri se passie vir skiet het begin op 'n kerkbasaar, toe haar pa haar talent raakgesien het. "My korrel was nogal goed," vertel sy met 'n glimlag. Daardie basaar-ervaring het die vonk aangesteek en haar pa het haar dadelik by SANSU (South African National Shooting Union) laat aansluit om kompeterend te kan deelneem. Sportskiet is 'n Olimpiese sport wat deelnemers met 'n fyn balans van fokus, beheer en presisie uitdaag. 'n Kompetisie of liga word gewoonlik oor twee dae aangebied. Celri verduidelik dat elke skieter drie driepote opstel, elk met 'n spesifieke doel: die een voor haar word vir haar geweer aangewend, die een links vir haar ammunisie en die een regs vir haar pistool of ander toerusting. Die driepote word verstel vir elke posisie - lê, staan of kniel - en word 'n noodsaaklike deel van haar roetine. Wanneer die skietuitdaging begin, kry elke deelnemer onbeperkte proefskote, gevolg deur 20 teikenskote wat vir punte tel. Dag een bestaan uit 'n kombinasie van lê-, kniel- en staanskiet, terwyl dag twee uitsluitlik fokus op die 10m staanskietkompetisie. Sy geniet die ligas ontsettend, waar sy die ander deelnemers, wat al soos familie geword het, ontmoet. Die Noord-Kaap het tans tussen 10 en 15 deelnemers in die onder-14 afdeling, waarin Celri aan die voorpunt staan. Sy merk op dat die o/14-ouderdomsgroep 'n meerderheid meisies het, maar dat daar in die hoër ouderdomsgroepe gewoonlik meer seuns is. Celri neem deel in die sporter-afdeling, een van die drie afdelings wat ook veergewere en pistole insluit. Almal werk met lug of gas. "Dit is sporttoerusting en nie 'n moordwapen nie," benadruk sy. Die lê- en knielafdeling duur elk 25 minute, terwyl die staanafdeling 'n 30 minute sessie is. Die energieke meisie verduidelik met 'n glimlag dat meisies 'n natuurlike voordeel in die staanafdeling het. "Meisies vaar beter in die staanafdeling omdat ons heupe het, want jy rus met jou elmboog op jou heup, soos vir dooierus, om 'n meer stabiele skoot af te vuur," vertel sy. Fokus en beheer is vir Celri 'n uitdaging, veral wanneer sy bewus is van die tyd wat wegtik. Sy het 'n meganisme wat haar herinner hoeveel tyd sy per afdeling oor het om senuwees in toom te hou. Omdat dit 'n binnenshuise sport is, oefen sy in die stoor op hulle plot, wat haar voorbereiding vergemaklik. Haar grootste droom is om in die top 8 by die SA's te eindig, wat haar 'n kans sal gee om in Engeland te gaan deelneem. Om dit te bereik, oefen sy op 'n minimum van twee teikens vir drie tot vier dae per week. Met hierdie dissipline slyp sy haar posisie, fokus, asemhaling en ander tegnieke wat van haar 'n uitstekende skieter maak. Van 3 tot 9 Oktober word die Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Modimolle, Limpopo, aangebied, waar vier meisies en een seun uit die Noord-Kaap aan die o/14-kampioenskappe sal deelneem. Celri spreek 'n wens uit dat meer jongmense die sport sal ontdek, sodat hulle saam met haar die vreugde daarvan kan ervaar. Hoewel sportskiet 'n duur sport is, het die Noord-Kaap 'n geweer vir haar beskikbaar gestel sodat iemand anders saam met haar kan oefen. Dit is 'n opwindende vooruitsig vir haar. Nalet Maass, 'n student by Bo-Karoo Opleiding, het ook 'n groot bydrae tot Celri se afrigting gemaak. "Dit sal vir my so lekker wees as nog mense saam kom skiet, want ek sal graag vir ander wil leer wat ek nou al weet," sê sy opgewonde. Celri jag nog nie, maar sien daarna uit om eendag dalk 'n Springbok te skiet. Met haar passie en toewyding is dit duidelik dat hierdie jong sportskieter haar eie toekoms doelgerig en met selfvertroue skep.

Celri mik vir sportskieter-kolskoot – foto 3
Celri mik vir sportskieter-kolskoot – foto 2
Voorblad van Koerania - Augustus 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2025, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar