
Bo-Karoo Opleiding (BKO) het 'n ambisieuse teiken gestel: om nagenoeg 800 studente in die volgende 3 jaar op hulle kampus sonder mure te ontvang, vier keer meer as die 200 studente van 2025. Die pad daarheen word aangedryf deur die “Snelrat 800-plan,” wat ná April 2025 afgeskop het. Volgens Vogel is die kernstrategie om bestaande kapasiteit te optimaliseer, programme te versterk en nuwe aanbiedinge strategies uit te rol. "Ons moet eers die stoele volmaak wat ons reeds het, wortel skiet en sterk maak," sê Paul Vogel, Uitvoerende Hoof. 'n Sleuteluitbreiding lê in landbou. Die twee jaar-oue Leer-My-Hoe proefplaas, word dramaties uitgebrei tot 22 hektaar. In Januarie 2026 begin die omskakeling van een van die stoorfasiliteite in 'n meganisasie-werkswinkel om hierdie spilpunt te ondersteun. Die ambagte word ook versnel. Daar is 'n dringende behoefte aan meer klasspasie en fasiliteite vir Loodgieter- en Elektries opleiding. Die beplande uitbreiding langs die bestaande werkswinkels sal plek maak vir drie nuwe werkswinkels, terwyl verkoeling en moontlik meubelvervaardiging ondersoek word. In Julie 2026 begin BKO met 'n tweede inname vir
Elektries. Gesondheid en Welstand brei uit met groter kapasiteit vir Noodhulp 1, 2 en 3. Vennootskappe met ouetehuise in Bloemfontein en Kimberley skep noodsaaklike praktiese opleidingsgeleenthede. In Januarie skop BKO af met 30 personeellede en op volle kapasiteit met aanstellings in landbou- en gesondheid en welstand departement, 'n bemarkingsbeampte en sport koördineerder. In terme van addisionele studenteverblyf is BKO opgewonde om te noem dat die nuut-geboude H-blok by die Olienhoutontwikkeling, wat bekend sal staan as Steenbok-Vleuel, is reeds op vol bespreek vir 2026, so ook Duiker Dameskoshuis. Daar is volstoom besig met programontwikkeling en kort kursusse – met hierdie sal daar meer opleidingsgeleenthede wees vir voornemende studente. Paul vertel dat die gemeenskap se rol in die studente se dag-tot-dag aksies deurslaggewend is. “Die positiewe terugvoer het die prentjie in die laaste paar jaar 360 grade gedraai.” Met meer as 100 nuwe eerstejaars in 2026, is Paul Vogel se boodskap aan die gemeenskap duidelik: “Ons kan dit nie doen sonder die gemeenskap nie.” Hy vra vir 'n positiewe ontvangs en 'n warm verwelkoming om die studente te help vorm tot sterk volwassenes. Die jaar skop af met 'n funksie op 31 Januarie. Die tafel word gedek vir sukses en wat ons, as Oraniërs, kan bydra is ondersteuning van BKO, die studente, hul families en geliefdes – van hulle eerste dag hier, tot hulle weer terugkeer na waar hulle vandaan kom.



