Bo-Karoo Opleiding (BKO) staan gereed om 2025 met rekordgetalle en opwindende geleenthede aan te pak. Vir die eerste keer in sy geskiedenis verwelkom BKO meer as 200 studente, waarvan maar as 100 eerstejaars in 2025 aansluit. Die akademiese jaar begin Maandag, 13 Januarie, na die eerstejaarskamp wat reeds hierdie naweek plaasvind.
Wat die kursus aanbod betrek is BKO se praktiese kursus benadering tot opleiding en stel studente in staat om hul drome en loopbane na te jaag. Die Nasionale Diploma in Siviele Ingenieurswese bied 'n deeltydse opsie vir werkendes wat hulself verder wil bekwaam. Die Tuissorgassistent-kursus volg 'n na-uurse model, wat leerders meer vryheid gee om hul studies met ander verpligtinge te balanseer. Hierdie programme, tesame met gevestigde beroepskwalifikasies soos Loodgieter en Elektries, is kernkomponente van BKO se toewyding tot gehalte en toeganklike opleiding. Die Boerderybestuursprogram toon ook 'n toename in studente wat vanjaar die program studeer, wat die groeiende behoefte van landbou- en boerderyvaardighede in die samelewing beklemtoon.
Met die groeiende studentegetalle het BKO groot voorbereidings getref om in 2025 'n uitgebreide leeromgewing te bied. Die Boublad (waar student fisies leer en oefen in konstruksie) is uitgebrei, en die Departement Gesondheid en Welstand beskik oor 'n vergrote simulasiekamer. Vir die Vroeë Kinderontwikkeling-kursus is 'n inspirerende lesinglokaal en simulasie-area ingerig om studente praktiese blootstelling te gee. Uitbreiding en groei op die Leer-My-Hoe-Proefplaas skep verdere praktiese geleenthede vir landbou studente. Verder staan BKO se personeelspan op 20, wat beteken dat BKO nie net in infrastruktuur nie, maar ook in kundigheid belê om sy studente die beste moontlike opleiding te bied.
Studente is die kern van BKO en Marike Labuschagne, Hoof van Studentesake, beklemtoon die belangrikheid van gesonde studenteontwikkeling: “Ons is verbind tot die volledige ontwikkeling van al ons studente – vir hul loopbane en ook as individue wat deel vorm van 'n groter gemeenskap. 'n Gesonde studentelewe en betekenisvolle integrasie in die Orania-gemeenskap is vir ons van kardinale belang, en ons is trots daarop om 'n omgewing te skep waar studente hul potensiaal vry en veilig kan bereik.”
Die studente bring 'n unieke energie na Orania wat nie ongemerk bly nie. BKO bedank die gemeenskap vir hul voortgesette ondersteuning en samewerking wat hierdie groei moontlik maak. Paul Vogel, Uitvoerende Hoof van BKO, sê: “Ons bly toegewyd aan ons visie van 'Vryheid deur opleiding en arbeid'. Die gehalte van ons programme, saam met die ondersteuning van die gemeenskap, stel jongmense in staat om met selfvertroue na hul toekoms te kyk en 'n verskil te maak.”
Laat aansoeke vir 2025 is steeds oop en sluit Vrydag, 24 Januarie.
Word deel van 'n instelling wat jongmense toerus om hul drome te verwesenlik en 'n blywende impak te maak! Koshuisverblyf en finansiering is beskikbaar.




