← Nuus

· Deur Dia van Staden

Beserings na botsing eis Helpmekaar se Hannelie

Hy vertel dat personeel van ‘n nabygeleë kliniek haar probeer help het.

Volgens videomateriaal het Hannelie Schwartz op Donderdag 1 Augustus om 09:59 oor die N12, rigting Hopetown, gery toe die vervoertrok van Liebenlogistics haar voertuig getref het, en die voertuig ‘n paar keer getol het, voordat dit teen die metaal padreëling tot stilstand gedwing is. Volgens Theo Erasmus, die Prinsipaal van die Eureka Nood Mediese Dienste, wat vinnig op die toneel was, het hul Hannelie op die passasiersitplek met verskeie beserings aangetref. “Die impak van die trefslag en die tol van die voertuig moes gelei het tot die verplasing,” verduidelik Theo, wat ook ‘n bekwame lewensondersteuningsparamedikus is.

Hy vertel dat personeel van ‘n nabygeleë kliniek haar probeer help het. Saam met Sivuyile Ndabetha en Tlale Ezekiel Tjamela, Eurekapersoneel, het hul haar so spoedig moontlik met die nodige stabilisering vir moontlike hoof, spinaal en borsbeserings uit die voertuig gehaal. “Sy het intensiewe sorg benodig wat ons nie langs die pad kon verskaf nie,” vertel Theo. Ettiene de Lange, hoof van die Orania Veiligheidsdienste, vertel dat hul net na 10:00 die oproep ontvang het, waarna hy en Theuns Wessels, Weerbaarheidshoof, hul na die toneel gehaas het. Slegs die motorwrak en die Hopetown polisie was op die toneel. Ettiene het as voorkomende maatreël die snytoerusting en ambulans laat ontplooi, maar die dienste is herroep toe dit bevestig is dat dit onnodig was.

By die Hopetown hospitaal het hul Hannelie se eggenoot, Hardus, en ‘n kollega, Janca Pieterse ontmoet. Die moontlikheid van ‘n helikoptervlug na Kimberley se Gariephospitaal is bevestig en die OVD-personeel kon hulself handig maak met die reëlings van die helikopter, ‘n landingsplek op ‘n skool se rugbyveld oorkant die hospitaal en die verskaf van landingskoördinate. Susan Coetzer, operasionele bestuurder van Eureka, het bystand verleen met die aktivering van die lugambulans. Op Saterdag 3 Augustus het die familie steeds per Whatsapp vir hul geliefde Hannelie gebed versoek. Die neurochirurg, dr Swanepoel het hul egter ingelig dat die kopbeserings baie ernstig was, maar dat vele ander beserings ook tot haar kritieke toestand bygedra het. Hannelie het haar laaste asem op Sondag 4 Augustus uitgeblaas en laat die Orania gemeenskap, waar sy met ywer die minder bevoorregtes met sorg gedien het, in skok. Koerania het verneem dat Hannelie op pad was na Strydenburg om ‘n kollega met ‘n uitdagende kinderbeskermingsituasie te gaan bystaan. Ettiene krap sy voorkop ingedagte en vertel: “Van elke situasie bly iets my by. Dit is hoekom ons bootste in die oggende aantrek, maar jy weet nie of jy dit die aand gaan kan uittrek nie.” Die Solidariteit Helpende Hand Bo-Karoo Streek het in ‘n sosiale media plasing die volgende gesê: “Dit is met groot hartseer dat ons afskeid neem van Hannelie Schwartz. Sy het diep spore getrap in die harte van Oraniërs as maatskaplike bestuurder van Orania Helpmekaar. Haar hele menswees was iemand wat lus was vir die lewe en nie toegelaat het dat alledaagse dinge haar onderkry nie. Sy was ‘n bo-baas planmaker en het haar kollegas geïnspireer om die ekstra myl te loop. Sy was altyd gereed met goeie raad en ‘n woord van bemoediging waar nodig. DANKIE dat jy jou lewe gewy het om ‘n stem te wees vir diegene wat nie vir hulleself kan praat nie, en dat jy hoop gebring het waar ellendige toestande heers. DANKIE vir jou harde werk en diens aan die gemeenskap. Jou nalatenskap is groot en jou plek hier sal altyd leeg bly.” Hardus het sy hart uitgestort toe hy ‘n Facebookplasing gemaak het wat lui: “My Blomvrou. Jou plekkie is skielik leeg en jou stem stil. Hierdie husband van jou mis jou alreeds. Ons is stukkend. Al wat ek kan vra is, hou die hemel oop vir as ek kom. Lief jou vir ewig. Tot ons mekaar weer sien.” Tydens haar begrafnisdiens op Saterdag 10 Augustus het ds Ronald Bain en Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, hul respek vir Hannelie en haar werk uitgespreek. Dit is gewis dat sy gemis sal word.

Voorblad van Koerania - Augustus 2024

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2024, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar