← Sake

· Deur Dia van Staden

BEP-Koeriers is 'n gesinsbesigheid

Op 23 Mei 2025 vier BEP-Koeriers hul 20ste bestaansjaar!

Peter Kraukamp, Drienie van der Vyfer en Hans Nel maak seker dat die ratwerk en wiele in Christiana se kantoor geolie bly.
Peter Kraukamp, Drienie van der Vyfer en Hans Nel maak seker dat die ratwerk en wiele in Christiana se kantoor geolie bly.

Op 23 Mei 2025 vier BEP-Koeriers hul 20ste bestaansjaar! Op 23 Mei 2005 het dié besigheid se wiele in Christiana begin rol. Riaan Jacobs, eienaar, vertel dat hy dit verpes het as mense vra of hy Bloemfontein toe gaan en vir hulle 'n pakkie kan saambring. “Aangesien ek 'n entrepreneur is, besef ek toe dat daar 'n dringende behoefte vir 'n koerierdiens is,” sê Riaan. Volgens hom was koerierbesighede in 2005 nog 'n skaars en vreemde konsep. Daardie jare was die Poskantoor ten minste nog bietjie aan die gang en dit was 'n reuse taak om dié tipe besigheid te laat posvat. Hy beskryf 'n paar van die uitdagings: “Dit vat tyd om 'n roete te ontwikkel en dit is duur. Jy moet jou handelsnaam op 'n roete vestig en daarom ry jy vir 'n ruk teen 'n verlies, tot dit vrugte begin afwerp.” Hy frons terwyl hy vertel dat 'n koerierbesigheid nie 'n rykword besigheid is nie, maar wel 'n konstante besigheid is, wat sy eie lewe vergemaklik. Sy eie besighede vind baat by die koerierdiens. Met 6 personeellede word pakkies daagliks plaaslik, nasionaal en internasionaal vervoer. Drienie van der Vyfer is die kantoorbestuurder wat in Christiana se kantoor werksaam is. Peter Kraukamp, Hans Nel en Helmut Kitt is die 3 betroubare drywers wat soms swak paaie en gure weersomstandighede moet aandurf. Hulle bly egter vriendelik en behulpsaam wanneer eise aan hulle gestel word. Twee algemene werkers is by die Christiana kantoor behulpsaam met elkedag se ontvang, verpakking en versending van pakkies. Jankie sorg dat die terrein netjies bly en laai pakkies op en af, terwyl Evelyn die kantoor netjies hou en knap is met verpakking en liasering. Meganiese breuke sonder 'n surplus personeel en voertuie kan vir kopsere sorg. As een siek is moet daar planne gemaak word om steeds 'n diens te lewer. Hy beklemtoon dat subkontrakteurs soms foute maak, want 'n kommunikasiegaping het 'n besliste impak op die kwaliteit van kliëntediens. Drienie vertel dat hulle gereeld daarmee spot dat iemand toestemming moet vra voordat hulle siek word, want so 'n uitdaging word die span se krisis. BEP-Koeriers se kliënte wissel van besproeiingsboere, want die spilpunt mag nie staan nie, onderdele vir plaaslike meganiese besighede of individue, die oplaai van laaste inkopies voor 'n troue, dokumente, 'n verskeidenheid voorrade en baie meer.

Die omvang van koerierdiens is wyd en moes hul al babadoeke na 'n Bloemfonteinse laboratorium vervoer om te laat ontleed. Muise as slangkos, geliefdes se as, verjaardagkoeke, blomme en 'n magdom ander items is al vervoer. Peter en Drienie kom al 'n lang pad met die besigheid en Helmut het in 2021 weer by BEP in Orania aangesluit, nadat hy gedurende 2007 en 2008 reeds 'n drywer op Christiana se roete was. Vir Riaan en Marcel is kliëntediens uiters belangrik en hulle voel dat kliënte 'n goeie ervaring moet hê. Op die vraag waar die naam vandaan kom vertel Riaan dat Beth-El-Pella (Plek van God) hul familieplaas se naam was. “Ons het 'n slaghuis en deli bedryf, maar net BEP-Koeriers het as 'n handelsnaam oorgebly.” Op 'n stadium het die besigheid 4 bakkies op die pad gehad, maar tydens die grendelstaat is daar besluit om slegs 3 bakkies aan te wend. Oor jare is 'n sterk netwerk gebou sodat daar vir ander maatskappye as subkontrakteur opgetree kan word en dié subkontrakteurs vir BEP. In Suid-Afrika word daar onderandere daagliks tussen Hartswater, Christiana, Pampierstad, Kimberley, Barkley-Wes, Orania, Richie, Modderrivier en Hopetown dienste gelewer. Met die verval van paaie moes hul ongelukkig sekere roetes uitsny. “Kontak die kantoor, want ons kan enige plek in die land of wêreld bedien,” sê Riaan. Riaan vertel dat die mark na Covid baie groter geword het. “Daar is 'n paar koerierdienste wat baie kompeterend is op klein pakkies, maar as pakkies meer gesofistikeerd of groter raak is daar nie een van die ander dienste wat by BEP kan kers vashou nie. Ons pryse is ook uiters kompeterend.” BEP-Koeriers is 'n privaat Orania- en familiebesigheid wat deur 'n Oraniër besit en bestuur word. Die hele span is dankbaar vir verhoudings wat van dag 1 af sterk gebou is en sê dankie vir elkeen wat hul pad kruis. “Ons antwoord is altyd JA, en dan vra ons

Eienaar, Riaan Jacobs, is trots op dié familiebesigheid wat nou 20 jaar vier.
Eienaar, Riaan Jacobs, is trots op dié familiebesigheid wat nou 20 jaar vier.
Helmut Kitt is die gawe drywer wat in Orania woon en sy roetes ywerig voltooi.
Helmut Kitt is die gawe drywer wat in Orania woon en sy roetes ywerig voltooi.
Voorblad van Koerania - Mei 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2025, bladsy 6

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar