← Gemeenskap

· Deur Dia van Staden

Belê in jou gesindheid

Die wêreld sal 'n baie beter plek wees as ons daarop kan fokus om die lewe te vier!

Belê in jou gesindheid – foto 1

Die wêreld sal 'n baie beter plek wees as ons daarop kan fokus om die lewe te vier! Vroue het 'n duidelike verantwoordelikheid binne hierdie konteks. Vra jouself hierdie vrae: · Staan ek in die oggend met 'n sug op? · Wat is die eerste emosie wat my kind op my gesig of in my lyftaal lees wanneer hy of sy my in die oggend vir die eerste keer sien? · Dra ek daardie emosie op my kind se gemoed oor? · Watter gewoontes vestig ek in my kind se gemoed met my herhaalde optrede? · Blaf ek kortaf die eerste woorde wat elke oggend uit my mond kom? Beledig of kritiseer ek sommer vroeg in die oggend my kind se omgewing, maniere of gedrag? · Is dit ek wat die atmosfeer en ritme vir die hele dag stel, met daardie vroegoggend optrede van my? · Het dit al so 'n gewoonte geword om negatief te leef dat almal om jou dit van jou verwag? As dit nie jy is nie, baie geluk! Die mag van die brein is om ons biologie te oorwin. Ons kan 'n besluit neem om goed te voel oor onsself, die lewe, en ons omstandighede met dankbaarheid te benader.

Die wêreld het ongelukkig vroue “misvorm” tot beheptheid met geld, met status, met aangeplakte skoonheid, materialistiese belang en aangeplakte vroomheid. Is jy die positiewe verskil in jou eie, jou man, kind, vriendin of vriend se lewe? Ontstaan daar 'n sagte omgee, selfs as julle van mekaar verskil? Is daar ruimte om emosioneel te raak in mekaar se spasie? Kan jy luister, sonder om raad te gee of te kritiseer – net luister en omgee? Belê jy in jou verhoudings deur nie jou rug te draai nie, maar terug te draai en daarin belang te toon deur kontak te maak – respekvol, eerlik en liefdevol! Moet nie toelaat dat konflik, tegnologie, drama en trauma jou vreugde in verhoudings steel nie. Wees die een wat met 'n sagte hart en stem terugdraai, teruggee en opdaag wanneer jou geliefdes dit die meeste nodig het. Maak mekaar weer die hof – met koffie of 'n koeler drankie, maar draai om en gee om en klets! Galasiërs 5:22 – lees dit. Leef dit!

Voorblad van Koerania - Augustus 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2025, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar