
Vrywaring: Hierdie is die siening van die outeur, en verteenwoordig nie enige groep of organisasie in en van Orania nie. In die Augustusmaand uitgawe van Koerania het ek gepraat oor 'n moontlike strategie vir die daarstelling van 'n selfbeskikkende, selfregerende gebied waarin Orania 'n leidende rol kan speel vir die daarstelling daarvan sonder om eie identiteit en ideologië prys te gee. In hierdie meningstuk word daar nou spesifiek aandag gegee aan die Orania Oorgangsgebied, die uitdagings wat dit in die gesig staar en hopelik een of twee voorstelle oor hoe dit hanteer kan word. Die eerste punt wat uitgelig moet word is dat die onlangse sensus 'n klompie kommerwekkende tendense aan die dag gelê het. Groei in bevolking as persentasie per jaar het van 'n hoogtepunt van 15% in 2020 tot 5% in 2024 afgeneem, en dit is 'n ope vraag wat dit in 2025 gaan wees. Daar is 'n groot skuif van geregistreerde besighede tussen kategorieë. In 2020 was Dienslewering, Handel en Konstruksie 89% van die ekonomie, in 2024 was dit 68%. Gasvryheid, soos ek nog altyd propageer het, speel nou 'n belangriker rol, en op die oog af wil dit lyk of vervaardiging baie positief toegeneem het, maar mens sal moet kyk watter tipe besighede hulle nou as vervaardigers geregistreer het. As dit 'n eenmansaak is dra dit nie noodwendig substansieel by tot die ekonomie nie. Die feit dat opleiding nie gegroei het nie is nogal verbasend, siende die groter getal studente in die dorp. En wat die getal besighede aanbetref, is ons nog steeds onder die 2020 maatstaf van 129 besighede. Wat werksgeleenthede aanbetref, is dit moeilik om die situasie in persentasies uitgebeeld, te analiseer. Getalle sou dalk meer duidelikheid op die saak gewerp het. As 'n besigheid een persoon in diens gehad het en daar is nou twee, is daar 100% styging, maar maak dit 'n wesenlike verskil? Daarby het sakevertroue dramaties afgeneem van 'n hoogtepunt van 80% in 2022 wat gesê het hulle dink sakevooruitsigte is goed en uitstekend na 42,3% wat so dink in 2024. Daarteenoor het die getal wat gedink het sakevooruitsigte is swak en baie swak tienvoudig toegeneem vanaf 2% in 2020 tot
20,3% in 2024. In my opinie is dit kommerwekkende statistiek. Die grootste gedeelte van Orania se bevolking lê nog steeds in die Orania Aandeleblok. As mens vryelik van 'n dorp praat, praat mens eintlik nog van 'n maatskappy wat onder privaatreg die maatskappy volgens die diskresie van die Direksie bestuur, ongeag die gevolge vir die nie-aandeelhouers. Die OAB direksie stel elke jaar in Desember die begroting vir die volgende jaar beskikbaar. Synde 'n maatskappy te wees, word daar van hulle verwag dat hulle waarde vir hul aandeelhouers moet genereer en nie hulle uitgawe begroting oorskry nie. Die 2025 begroting het voorsiening gemaak vir slegs 3% groei, wat as dit saam met die bevolkingsgroei geneem word, 'n kommerwekkende tendens aandui. Want sonder dramatiese groei in hulle bronne van inkomste, hoe gaan die veel vinniger stygende uitgawes gedek word? Veral aangesien die skenkings ook elke jaar minder word en daar plaasvervangende inkomste daarvoor gevind moet word. Daar is tog na alles 'n limiet op hoeveel mens dienste kan verhoog om die stygende uitgawes te verhaal as die getal lokale belastingbetalers nie dienooreenkomstig styg nie. En as mens die begroting deeglik beskou is dit duidelik dat daar in die begroting nie geld is om gesubsidieerde nywerheidsvestiging te akkomodeer nie. Daar sal dus 'n groot dryfkrag uit die privaatsektor en die landbou moet kom. Wat ons by die haan, die hoender en die eier bring. Wanneer daar gevra word, wat was eerste? Die hoender of die eier? Dan is daar baie verskillende opinies, net soos daar in Orania baie opinies is oor wat die roete is wat ons moet volg na Vryheid. Maar as die hoender nou uitdraai om 'n haan te wees, dan dink ek dit is baie beter om eerder 'n eiertjie te hê. Ek doen 'n beroep op julle almal, kom lê jou eiertjie. Kom ons probeer beleggingskonferensies in Orania reël, kom ons stel 'n prospektus op en bemark dit agressief en kyk of dit beleggings kan lok. Dit is nou tyd dat almal in die groter Orania koppe bymekaar sit om te kyk hoe en waar ons die goedkoopste verblyf kan skep deur innoverende denke soos gemeenskapsgrond, trusts, dalk selfs iets soos kibboetse of gemeenskapsplase. En ook waar ons goedkoop en bekostigbare minifabrieke as die middelpunt van nywerheidsontwikkeling kan begin. Iets moet ons doen, anders sal ook my besigheid oor minder as twee jaar ophou bestaan.




