Dié seisoen word gewoonlik luidkeels in sentrums met kersliedere en 'n oordadige klomp rooi, groen en goue blink versierings aangekondig. Sonder dat ek en jy 'n keuse het, word ons sensories oorlaai met die gekommersialiseerde aanbod van Christus se geboorte. Vanjaar is ek deeglik bewus van 'n seisoen van afskeid. Buiten die Afrikaners wat ons SA-skip wil verlaat, was daar onlangs die afskeid van 'n broerskind – sonder luide aankondiging of feesgesang… Hy het 'n suksesvolle en gelukkige lewe, op die sosiale media en Whatsapp-oog af natuurlik, in Sjina gelei. 'n Hartaanval in sy slaap het 'n einde gebring aan sy 34 jaar op aarde. My pa is op 58 oorlede na 'n massiewe trombose. Hoe mis ek hom, maar dit was anders. As 'n familie kon ons persoonlik afskeid neem. Vir Stefan kon ons 03:00 in die oggend inskakel vir 'n wipsein-aanlynafskeid. Die trooswoorde van vriende wat lief was vir hom en sy onwrikbare geloof ervaar het, was pleisters. Hoeveel familielede moet deesdae op dié manier van geliefdes afskeid neem? Dis te duur. Dis te ver. Dit is net 'n liggaam… Trane rol en snikke word saggies in jou persoonlike spasie geuiter, maar is dit effektiewe afskeid? Is dit hoe ons saamgestel is om finaal te groet? Bring dit vrede in ons gemoed? Afstand is moeilik, maar die werklike impak daarvan het my weer soos 'n vuishou op die maag getref toe afskeid daarvan deel word! As geredde kind van God het ek 'n vaste vertroue in die ewige lewe. Die pyn van afskeid word effens versag met die wete van weersiens... of nie? Mag dié vakansie familietyd vir elke leser, adverteerder en rolspeler van my en Koerania se reis wees. Maak mooi planne vir 2026 en hou dringend vas aan God se beloftes, terwyl ons die wapenrusting as ons enigste beskerming aantrek! Effesiërs 6:13: Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.
· Deur Dia van Staden
Afstand, afskeid en weersiens
Dié seisoen word gewoonlik luidkeels in sentrums met kersliedere en 'n oordadige klomp rooi, groen en goue blink versierings aangekondig.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – Desember 2025, bladsy 2
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar


