
Altesaam 53 plaaslike mikrovervaardigers en belangstellendes het onlangs ’n gesprek by Die Kosmol bygewoon. Die byeenkoms is deur Jan Snyder, eienaar van Die Toffiewinkel Padstal, gereël as ’n eerste stap om nuwe afsetgeleenthede vir Orania se vervaardigers, handwerkers en ambagslui te skep. Snyder is reeds geruime tyd bekommerd oor die behoefte aan meer plaaslike inkomstegeleenthede. Omdat hy voortdurend na unieke handgemaakte produkte vir sy winkel soek, het hy besluit om plaaslike vervaardigers bymekaar te bring en ’n praktiese geleentheid vir die bemarking en verkoop van hul produkte aan hulle voor te stel. Die sterk opkoms het volgens hom gewys dat daar groot belangstelling in kleinskaalse vervaardiging en ondernemingsontwikkeling in Orania bestaan. Tydens die byeenkoms is ’n saamgestelde video vertoon waarin voorbeelde gewys is van hoe produkte soos kunstige kerse, houtwerk, dekorartikels, sementprodukte en plante in volhoubare kleinsakeondernemings ontwikkel kan word. Vier hoofdoelwitte vir die inisiatief is as volg uiteengesit: Om mikrovervaardiging in Orania te bevorder en ’n sterker grondslag vir plaaslike kleinsake en vervaardiging te lê. Om Die Toffiewinkel as vertoon- en verkooppunt vir plaaslik vervaardigde produkte te gebruik. Deelnemende vervaardigers sal weekliks vir hul verkope uitbetaal word. Om uiteindelik ’n mikrovervaardigingsentrum te vestig waar verskeie plaaslike vervaardigers en ambagslui saam kan werk. Om ’n aanlynwinkel te ontwikkel waardeur produkte uit Orania landwyd bemark en verkoop kan word. Verteenwoordigers van die Orania Sakekamer het ook die beraad bygewoon. Snyder het ’n beroep op die sakegemeenskap en plaaslike instellings gedoen om te help om aanvangskapitaal deur bekostigbare lenings of skenkings beskikbaar te stel. Volgens Snyder kan ’n gebou of kompleks waarin vier of vyf werkswinkels saam gevestig word, meer as net vervaardigingsruimte bied. Dit kan ook as ’n toeristebestemming ontwikkel word waar besoekers kan sien hoe plaaslike produkte gemaak word en dit direk by die vervaardigers kan koop. Verskeie deelnemers het tydens die beraad hul vaardighede, produkte en behoeftes bespreek. Elmarie van Dalen het voorbeelde van haar handgeverfde materiaalprodukte aan die gehoor gewys. Ina Peach het vertel dat sy voorheen probeer het om klere en ander lapprodukte te vervaardig. Hoewel sy oor die nodige toerusting beskik, het verskeie praktiese struikelblokke die onderneming gekniehalter. Sy benodig veral ’n geskikte perseel waar sy mense kan oplei en die vervaardiging kan uitbrei. Snyder meen klere en ander tekstielprodukte kan ’n goeie vertrekpunt vir ’n groter plaaslike bedryf wees. Hierdie produkte is betreklik lig en kan daarom makliker en meer kostedoeltreffend na kopers elders in die land versprei word. Niklaas Buys het Orania se instellings aangemoedig om ’n geskikte, toegeruste gebou teen gunstige voorwaardes beskikbaar te stel. Só ’n fasiliteit kan plaaslike opleiding, produksie en werkskepping ’n betekenisvolle hupstoot gee. Daar is ook belangstelling in tuisgebak en ingemaakte produkte, waaronder konfyt en piekels, asook handgemaakte lekkers. Verskeie deelnemers het ná die beraad aangedui dat hulle hul produkte aan Die Toffiewinkel wil voorlê. Die volgende stap sal wees om die beskikbare vaardighede, produkte, werkruimtes en finansieringsbehoeftes in ’n werkbare plaaslike vervaardigingsnetwerk saam te bring. Plaaslike inwoners wat in ’n klein werkswinkel belangstel, of wat produkte vir moontlike verkoop wil voorlê, kan Jan Snyder per WhatsApp by 084 603 1827 kontak.




