Dis 16 Desember 2026. Die drie huisies by die hek staan verslete. Die vensters is flenters en in die gate waar deure was, loop skanierroes soos bloedtrane teen die barre kosyne af. Van die elektroniese bord is net 'n geraamte oor. Die oopswaai-houtjukhekke is nou hemelhoë traliejukke: die helfte reeds vir skrootmetaal verkoop; die staaltandoorblyfsels net-net deur dik kettings en slotte staande gehou. Ek kruip deur die lendelam verskoning vir versperrings. Die verval tref my soos 'n Stillknocks-vuishou. Geen sebra in sig of wildebees wat net vry kan wees. Die Troostuin, waar honderde hul geliefdes vir oulaas kon groet, lyk soos enige begraafplaas vandag. Verdring, versonke, verlate. Aan die oorkant, waar gesneuwelde soldate se name in graniet verewig was, vlae gehys en lowergroen kranse gelê is, lê distels en dorings soos 'n draak se derms deur klipbroksels gevleg. Ook die Kapel, met sy loodglasvenstergetuies van paartjies se ewige trou, het roetswart verkrummel tot ewige rou. Net die letter F bo die Erfenissentrum se mosterdgeel-en-baksteengebou het behoue gebly. Skatkamers vol stambome, skilderye en onberekenbare skatte; borsbeelde en hartsverhale. Uitgehol. Volumes der volumes van 'n volk se geheue uitgevee. Eeue se getuienis uitgewis. Die Markplein met sy skaakbord en skopfietsies, sambrele en melkskommels, geroesemoes van tale en gelate geselsies, busse vol nuuskieriges en winkels vol smulgoed en geskenkies lê gestroopvergroeid. Moerdijk draai in sy graf om, dink ek met die aanskoue van die majestueuse puinhoop, pynhoop, wat eens óns Monument was. Van die granietkolos se bykans 60 000 blokke wat met bloed en sweet en swaarverdiende sente gebou is, is bitter min nog in plek. Netjies gestapelde steenrye vol simboliek nie deur dawerende nagtelike bomwerpers soos in die Tweede Wêreldoorlog oopgekloof nie, maar met assegaaiskerp voorwerpe chirurgies tot verlatenheid geskend. Stukkie vir stukkie. Die son val nie meer op 16 Desember sekuur op die senotaaf se steen nie. Want ook dít is verbrysel. Dis grafstil. Oorverdowend stil. En pikdonker. Gee ons krag! Die vreesaanjaende vooruitsig dat 'n volk se ideale en kulturele identiteit in 'n oogwink kán vergaan, is nié fiksie nie. Die Voortrekkermonument voer tans 'n kritieke oorlewingstryd weens swak dienslewering, hemelhoë munisipale rekenings en nie 'n sent staatshulp nie. Soos ons voorgeslagte met hul eie sente monumentale infrastruktuur van wêreldgehalte opgerig het, het ons jou nóú nodig om die Monument se voortbestaan te verseker; om staats- en toekomsbestand te word. 'n Enorme brandpunt is die nagenoeg R7 miljoen wat benodig word om 'n sonkragstelsel te installeer. Dra vandag nog by (jou kleingeld maak groot geld!) tot die Voortrekkermonument se Gee ons krag!-projek deur op hierdie skakel te klik. Dit is óns verantwoordelikheid én voorreg om te keer dat net foto's en vae herinnerings van die Monument oorbly.
· Deur Koerania-redaksie
Aan watter kant van dié verhaal staan jy?
Die drie huisies by die hek staan verslete.

Uit die koerant
Hierdie berig het verskyn in Koerania – April 2025, bladsy 6
Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar

