← Gemeenskap

· Deur Wynvlieg Woltemade

Die Wynvlieg waai in: 2026 sonder ’n herbegin-knoppie – Januarie 2026

Elke nuwe jaar bring glo nuwe voornemens.

Wynvlieg kyk hoe ’n volk planne maak met sakke vol gister

Elke nuwe jaar bring glo nuwe voornemens. Minder suiker. Meer stap. Minder skermtyd. Meer geduld. Maar 2026 het vreemd begin. Stiller. Swaarder. Asof niemand heeltemal seker is waar die nuwe bladsy begin nie. Dis nie dat mense nie planne het nie. Inteendeel. Dis net dat baie van daardie planne nog in sakke lê; vol gisters. Halfvol beloftes, uitgestelde besluite en dinge wat nooit behoorlik afgesluit is nie. Dis asof hierdie jaar sonder ’n herbegin-knoppie aangekom het. Ek sien dit selfs op Nuwejaarsdag. Geen groot toesprake nie. Net mense wat hul koffie langer roer. Die kalender het verander, maar die gemoed nog nie. Die Kersboom staan nog, die vuurwerke was skaars, en niemand het werklik geglo dat middernag iets sou oplos nie. Dis nie uit pessimisme nie, dis uit ervaring. Ek sien dit by braaivleisvure en om die kombuistafels. Die gesprekke draai nie meer om “wat doen ons volgende?” nie, maar om “wat maak ons nou?” Mense lag nog, ja- maar dit’s daardie lag wat vinnig stil raak. Die Afrikaner hou van voornemens. Ons hou van planne, lyste en dinge wat begin met “van Maandag af”. Maar vanjaar sukkel ons daarmee. Nie oor luiheid nie; oor moegheid. Want baie van ons dra nog 2024 en 2025 saam soos ’n sak sement wat nooit neergesit is nie. En dan is daar die groot besluite. Dié waaroor mense nie hardop praat nie. Gesinne wat fluister oor die VSA se vlugtelingprogram. Nie uit avontuur nie, uit onsekerheid. Nie omdat hulle nie lief is vir hul mense of hul land nie, maar omdat hulle moeg is om altyd sterk te moet wees. Dis snaaks, né? ’n Volk wat bekend is vir vasbyt, sit nou en wonder of vasbyt nie dalk begin seermaak het nie. Ek sien mense wat nie nuwe voornemens maak nie, maar oues probeer klaarkry. Mense wat nie hul lewe wil oordoen nie, net wil weet waar hulle staan. En dalk is dit hoekom 2026 nie voel soos ’n nuwe jaar nie, maar soos ’n lang asemteug tussen twee swaar sinne. Ons word grootgemaak met die idee dat ’n nuwe jaar alles kan regmaak. Maar dalk leer hierdie een ons iets anders: dat nie alles ’n herbegin nodig het nie, party dinge net aandag. Nie almal soek ’n nuwe jaar nie, party soek net asem.

Ek’s Wynvlieg Woltemade. Ek kyk hoe ’n volk vorentoe beweeg sonder ’n herbeginknoppie, stadig, onseker, maar steeds saam. En dalk is dit ook ’n manier van aanhou.

Voorblad van Koerania - Januarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar