
1.Wanneer het jy en jou familie na Orania verhuis? Waar het jul voorheen gewoon?
Ons het in 2022 vanaf Piketberg in die Wes-Kaap na Orania verhuis.
2. Jy is ‘n prokureur. Vertel ons wat jy tans in Orania vir ‘n inkomste doen?
Ek het my praktyk vroeër vanjaar opgegee en is tans as nie-praktiserende prokureur geregistreer. Ek doen steeds kontrakwerk hier en daar vir ‘n aanvullende inkomste. My passie is Karooklanke en Klingels Musieksentrum waar ek my energie insit en werklik poog om kinders en studente te inspireer om ‘n liefde te hê vir musiek en kultuur.
3.Watter lewensles het die lewe jou tot dusver geleer? Wat maak jy daarmee?
Die lewe het my geleer dat ’n mens jou tyd en energie moet belê in jou passie. Wanneer jy werk doen wat jou opgewonde maak is elke dag ‘n plesier eerder as ‘n plig. Ek poog ook om onderskeid te tref tussen dit wat werklik saakmaak en dit wat net tyd en vrede steel. Ons leef in ’n wêreld vol geraas. Moenie dat die geraas jou oorneem nie. Draai die volume af en sit jou voet op die petrol na dit wat saakmaak.
4. Hoe wend jy musiek aan in jou daaglikse lewe?
Musiek vorm die ritme van my lewe. Van die oomblik dat ek soggens my oë oopmaak totdat ek saans gaan slaap, is dit deel van my dag. Van persoonlik tot gesin tot gemeenskap. Ook in my vryetyd. Ek het my van vroeg af beywer om by my kinders ‘n liefde vir musiek en kultuur te kweek. Vandag is ek dankbaar om te sien hoe daardie liefde saam met hulle gegroei het, en hoe dit steeds ñ lewende deel van ons gesin bly. Dis ‘n manier van leef.
5, Noem 3 redes hoekom kinders aan musiek blootgestel moet word?
Net 3 redes? Ek kan 3000 gee. Musiek beïnvloed ontwikkeling op ’n unieke manier. Brein: Musiek aktiveer beide kante van die brein gelyktydig. Dit verbeter konsentrasie, taalontwikkeling, wiskundige vaardighede en leerprosesse, omdat dit verskillende tipes denke op dieselfde tyd stimuleer. Unieke kombinasie: Musiek kombineer verskeie vaardighede in een aktiwiteit: -klank (soos taal) -patroon (soos wiskunde) -beweging (soos sport) en
-emosie (soos kuns) Emosioneel: Dit leer kinders dissipline en deursettingsvermoë. Terselfdertyd gee dit ’n kreatiewe manier om emosies uit te druk. Dit bou selfvertroue, gee balans en fokus in hulle daaglikse lewe.
6.Watter 3 aktiwiteite sou jy in Orania aangebied wou sien?
Orania is ’n unieke plek, en daarom glo ek ons skole behoort ook uniek te wees. Ek sou graag die volgende in ons SKOLE wou sien: - Leierskampe gestruktureerd vir kinders vanaf laerskool sodat ons ware leiers kan kweek. - Musiek, drama en kultuur ten volle teruggebring, nie as buitemuurse aktiwiteit nie, maar volwaardige plek in ‘n skoolweek. - Skoolkonserte, daai tipiese skoolkonsert wat elke jaar gehou, begroot en beplan word. Met drama, sang, dans, kostuums, ligte en rook.
7. Watter spreekwoord hou vir jou waarheid in?
Harde werk klop talent wanneer talent nie hard werk nie. (Basketbal afrigter, Tim Notke)
8.Droom jy nog? Waaroor?
Ja, ek droom nog baie. Ek droom oor Orania se teater en oor die moontlikheid dat daar genoeg ondersteuning en finansiering kan wees om musiek, drama en alle kreatiewe en kulturele aktiwiteite onder een dak te kan saambring.
9. Waar sou jy wou woon as dit nie Orania was nie? Waarom?
Wes-Kaap, Piketberg. Dis n mooi, klein dorpie en dis relatief veilig. Ons was altyd gelukkig daar, so ek sou enige tyd weer soontoe trek as Orania oornag deur die aarde ingesluk word.
10. Watter projek wil jy nog aanpak wat tans nie in Orania bestaan nie?
Ek sou graag wou deel wees van ‘n projek waar als onder een dak gebring word (vraag 8)




