
1.Wanneer het jy en jou familie na Orania verhuis? Waar het jul voorheen gewoon?
Ons het in April 2023 van Pretoria na Orania verhuis.
2. Uit wie bestaan jou gesin?
My gesin bestaan uit my vrou, Marike, ons dogtertjie Ellie, ons seuntjie Sias en my skoonma, Elsa.
3. Het jy gestudeer – in watter rigting? Gebruik jy dit in jou huidige beroep?
Ek het in 2007 met 'n rekeningkundekursus begin, maar het in 2010 weens finansiële redes 'n geleentheid aanvaar om by 'n bank te gaan werk. Sommige van die konsepte wat ek geleer het, help my vandag nog, maar dit vorm nie werklik deel van my huidige beroep nie.
4.Watter beroep beoefen jy? Geniet jy dit?
Ek is 'n besigheidsontleder en geniet veral statistiese ontleding.
5. Wat doen jy in jou vrye tyd
Wat is vrye tyd? (Lag.) Ek braai graag. My dogtertjie (6) en seuntjie (4) hou ons lekker besig. Tuinmaak is nog 'n uitdaging, maar ons vorder stukkie vir stukkie. Verder is dit moeilik om in Orania verveeld te raak.
6.Vertel meer van jou gemeenskapsbetrokkenheid.
Ek geniet dit om BKO se hokkiespan af te rig en sal graag hokkie in Orania verder wil bevorder. Ek is ook 'n groot aanhanger van plaaslike talent en poog saam met mede-entoesiaste om meer geleenthede vir optredes te skep. Hier is beslis genoeg talent, en die kunste is altyd 'n wonderlike manier om die gemeenskap bymekaar te bring.
7. Het jy geheime talente, of leef jy dit reeds uit?
Ek dink ek is 'n redelike oop boek. Ek is mal oor musiek, en dit is waarskynlik ook die dryfkrag agter die Musiekvasvra-aande wat ons by Duquesne aanbied.
8. Watter raad het jy as pa vir ander pa's oor die opvoeding van klein kinders?
Geduld is ongelooflik belangrik. Jou kinders leer hul maniere by jou en gebruik jou as voorbeeld van hoe 'n mens behoort op te tree. Wees liefdevol teenoor jou medemens, want kinders neem dit raak. Dit is altyd besonders om te sien hoe hulle daardie waardes uitleef wanneer hulle mooi met hul maats speel.
9. Is daar 'n gunsteling-aanhaling of Skrifgedeelte wat jou motiveer?
Daar is 'n paar, maar Psalm 121:1–2 spreek my besonder aan: "Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het."
10. Hoe dink jy kan die ekonomie van Orania uitgebou en versterk word?
#Ondersteunplaaslik Dit sal ook 'n groot verskil maak as Jan Alleman sy primêre woning makliker kan finansier, byvoorbeeld deur langer leningstermyne en laer of geen deposito's. Bekostigbare behuising is noodsaaklik, maar vir baie jong mense wat pas die werksmark betree, is dit steeds buite bereik. Opleiding in persoonlike finansiële bestuur kan ook 'n groot impak hê. Dit sal Oraniërs help om hul besteebare inkomste wys te bestuur, wat op sy beurt natuurlike ekonomiese groei sal bevorder. Dit is ook belangrik om tussen rykdom en welvaart te onderskei. Ek wil ook graag 'n nuwe dubbelkajuitbakkie hê, maar ek wil eerder eendag kan aftree sonder om finansieel afhanklik van ander te wees. Met ander woorde, ons moet vandag verantwoordelik beplan sodat ons nie môre vir mekaar hóéf te sorg nie.




