
Dit is Vrouemaand en dit is vir Koerania 'n voorreg om Orania se vroue te vier 'n Paar vroue deel hul gunsteling sosiale media familiefoto en vertel waarom dit 'n gunsteling is.
Dié foto is op 13 Augustus 2024 tydens ’n gesinsfotosessie geneem en wys die vyf Pereira’s. Dit is vir my ’n besonderse foto, omdat dit die waarde van familie vasvang. Dit maak nie saak hoe moeilik die lewe raak of deur watter uitdagings ons gaan nie, ek weet dat ek altyd na my familie kan draai. Wanneer ek na hierdie foto kyk, kan ek sommer weer hoor hoe lekker almal gelag het en voel ek die warmte van daardie oomblik. Vir my is hierdie foto ’n glimlag met ’n duisend woorde – ’n herinnering aan liefde, saamwees en die mense wat altyd daar sal wees. Foto: Mathys, Maria, Werner, Anneri en Markus Pereira.
Hierdie is my gunsteling familiefoto omdat dit vir my wys hoe kosbaar familie en saamwees is. Ons het die dag ’n spesiale familiefotosessie in Augustus 2025 gehad, en hierdie foto vang die oomblik en ons gesin se liefde vir mekaar pragtig vas. Ek hou veral daarvan dat ons almal saam in die mooi, natuurlike omgewing van die Kalahari staan. Die foto herinner my aan ons wortels, die mense wat vir ons belangrik is en die spesiale oomblikke wat ons saam deel. Dit is ’n herinnering wat ek altyd sal koester en graag met ander wil deel. Foto: Emmarentia en Heinrich Fourie, Esmarelda en Robert Nicolaisen, Esmari Nicolaisen, Henk en Marina Cloete, Helencia en TN van der Walt, Jaco en Nico van der Walt.
Sommige oomblikke vang die kern van die lewe vas, soos hierdie foto wat Ronin tydens hul kuier van ons geneem het. Soos die son oor die Beeldekoppie sak, word ons herinner dat elke sonsondergang ’n mooier afsluiting van ’n vol dag bied. Al bring sekere dae hul eie uitdagings en verloop dinge nie altyd volgens plan nie, is daar altyd die belofte van ’n nuwe môre vol hoop. Om hierdie oomblik saam met my man te beleef, vul my hart met dankbaarheid. Ek is waarlik geseënd. Foto: Marnus en Hanlie Pieters
Hierdie foto is geneem in Mei 2026, voordat ons saamgestelde gesin saam na die musiekblyspel Ons vir jou by die AfriForum Teater gaan kyk het. Dit was 'n aand vol betekenis. Die foto weerspieël die pragtige liefde, respek, vertroue en omgee wat ons vir mekaar het. Ons saamgestelde gesin is soos 'n kosbare lappieskombers. Dit is 'n pragtige reis wat gestik is met vreugde. Ons huwelik is gebou op Christus as ons pilaar, en hierdie oomblik is 'n lewende getuienis van Sy genade wat ons deur die afstand en tyd gedra het. Die foto dien as 'n spieël na die wêreld om te wys dat ons mekaar onvoorwaardelik liefhet. Foto: L’lize Janse van Rensburg-Genis en Rian Genis.
Soms bring die lewe ons weer bymekaar op plekke en tye wat ons nooit sou kon dink nie. Broers en susters wat jare lank hul eie paaie stap - staan nou weer langs mekaar – verenig deur liefde en omgee. Al is die omstandighede hartseer was dit op 24 Julie vanjaar so spesiaal om mekaar weer vas te hou, stories te deel en te besef dat familie altyd ’n deel van jou hart bly en dat dit ‘n kosbare band is wat nooit verlore sal gaan nie.
Dit gaan altyd moeilik om al die kinders bymekaar te kry. Hierdie foto is in 2023 geneem, Desembervakansie. Net hier in Orania. Al die kinders kon ongelukkig nie saam kom kuier nie. Wanneer ons almal saam is, is dit heerlik en elke foto wat dan geneem word is my gunsteling. Ons het oral ingeloer en gekuier en dié restaurant was 'n goeie keuse vir romerige melkskommels. Daar was selfs weer tyd vir bordspeletjies, iets wat ons graag as familie saam doen.
Ek lief hierdie foto omdat ons hierdie jaar familie kon verwelkom as nuwe Oraniërs. 'n Nuwe tradisie van Sondagmiddag familie-ete is gebore. Dit sluit altyd elemente in van eie produksie en planne beraam vir uitbreiding, opgradering en nuwe projekte. Ons tuiste se naam is "Volop" en die kombuisrakke wat ons self gebou het, herinner my aan ons lewe van eenvoud en oorvloed in die Here se genade op die plek waar Hy ons geplant het met 'n toekomsvisie wat ons voor ons oë sien ontvou.










