
Die mense naby aan my weet dat ek en hoogtes nie vriende is nie. Gee my enigiets anders en ek sal ‘n oplossing vir dit soek en aanpak, maar hoogtes? Nee dankie. Selfs om deur ‘n bergpas te ry is vir my ’n groot uitdaging. So valskermspring? Nee. Net geensins. Maar toe dink ek… hoekom nie? Hoekom nie my vrese uitdaag en dit vierkantig in die oë kyk nie? Dit is toe presies wat ek gedoen het. En vreemd genoeg, was my mense SO geskok dat ek dit werklik bespreek het… en toe nóg meer geskok dat ek werklik van plan was om dit deur te voer. Eerlikwaar, niemand het gedink ek gaan dit regtig doen nie, nie eens ek nie. Daar was ’n oomblik in die vliegtuig waar ek net gedink het: “Nee, nee, nee, nee!” Ek was werklik angstig! Maar ek het dit gedoen. Wel… natuurlik was ek vasgemaak aan Graham, maar steeds… EK HET DIT GEDOEN! En wow… dit was bevrydend. Dit het my weer herinner dat ons almal vrese het, maar ons kan óf bang bly óf daardeur druk. Partykeer wys die dinge wat ons dink ons nooit sal kan doen nie, presies vir ons waartoe ons in staat is. “Ek en jy kan regtig enigiets doen, as ons die keuse en besluit gemaak het.” ‘n Reuse dankie aan elkeen wat hierdie reis saam met my gestap en my ondersteun het. Julle aanmoediging het meer beteken as wat julle besef. Aan die span van Vryval Karoo — julle was absoluut ongelooflik!




