← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Vlugvoos vir die uitdagings

Wie is nie lief vir reis nie? Wie wil nie ook soms ontvlug van sy of haar huidige omstandighede om ‘n plek of tyd te kry waarin jy kan wegraak nie?

Wie is nie lief vir reis nie? Wie wil nie ook soms ontvlug van sy of haar huidige omstandighede om ‘n plek of tyd te kry waarin jy kan wegraak nie? Soms het jy net jou badkamer as ‘n plekkie van veiligheid en alleen wees. In Orania kan jy in veiligheid buite gaan stap en die natuur, ‘n skoon omgewing en vriendelike mense beleef. Daar is ‘n hele klomp plekkies en wegsteekhoekies waar jy in afsondering kan gaan sit en mediteer of sommer net ontlaai terwyl jy die natuur om jou geniet. Elders moet jy sorg dat jy in ‘n groep beweeg, want dit is nie veilig om dit alleen te doen nie. Wat het omstandighede ons geleer oor uitdagings? “In die ou dae” het ons ouers gesê ons moet elke uitdaging aangryp! Deesdae is ons mense maar skugter om te erken dat uitdagings buite hul gemaksone lê. Dit wil voorkom asof uitdagings eerder potensiële vrees, onsekerheid, konflik, beproewinge en hartseer mag insluit. Dwing eksterne omstandighede ons nou om uitdagings te ignoreer omdat dit negatiewe gevolge mag hê? Hoe berei ons jongmense dan vir die uitdagings van die lewe voor?

Jare gelede het professore my meegedeel dat studente opskop omdat hulle nie emosionele intelligensie besit nie. Dit gaan onder andere oor blootstelling aan die lewe se aanslae, vermoë om te onderskei, verskillende opsies van beroepe en goeie kommunikasievermoë. As jy opgegee het om in jou kop te reis, laat jou kind toe om die ervaring daarvan te geniet! Dit begin met ‘n boek, ‘n rolprent, ‘n televisiereeks, ‘n openlike gesprek. Die blootstelling aan MEER! Uitdagings beteken nie dat dit gemaklik of maklik sal wees nie. Dit beteken wel dat jy sal groei, sal ontdek en ingeligte keuses kan maak. Ouers, jy en ek as volwassene het ‘n verantwoordelikheid. Vlugvoos is nie ‘n opsie nie. Sprei die vlerke as ‘n voorbeeld vir jongmense, maar ook sodat hulle uit jou foute en suksesse kan leer. Skink koffie terwyl julle saam aan ‘n vlugplan vir die toekoms werk! Openbaring 3:20: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Voorblad van Koerania - September 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – September 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar