← Kultuur

· Deur Roelien de Klerk

Van beeldtegnologie tot skep met woorde

Jakes Möller se debuutbundel, Koorsboom, laat ’n mens lank nadink na elke gedig.

Van beeldtegnologie tot skep met woorde – foto 2

Jakes Möller se debuutbundel, Koorsboom, laat ’n mens lank nadink na elke gedig. Hierdie oud-Namibiër en radioloog, gebruik nie net beeldtegnologie om diagnoses te maak nie, maar skep beelde met treffende woorde. Sy fyn waarnemingsvermoë, wat waarskynlik verder geslyp is in sy beroep, word duidelik sigbaar in sy poësie. Sedert 2020 werk hy in Brits en woon in Hartbeespoort met die Magaliesberge en Bosveldskoonheid as agtergrond. Tog sien hy ook die letsels van die streek: die verterende industrieë, munisipale agteruitgang en maatskaplike verbrokkeling. Juis hier kry die Koorsboom simboliese betekenis. Jakes (nêrens verwys hy na homself as dr. Möller nie) vertel dat dié boom unieke aanpassingsmeganismes het: die opsigtelike groen bas verrig ook fotosintese, terwyl sekere takke as “offerlote” dien waarin gifstowwe gekanaliseer word. Die tak verdor sodat die res van die boom kan oorleef. Die tak val later af – ‘n outo-amputasie. Só word die Koorsboom ’n simbool van die mens in sy omgewing, stryd tussen lig en donker, en ook in onsself. Die bekendstelling van die bundel, op uitnodiging van Orania Kunsteraad (OKER), was ‘n deurblaai van ‘n baie interessante foto-album. Hiertydens lees Jakes nie sy gedigte voor nie, hy stel jou bloot en maak jou nuuskurig en dan laat hy ruimte vir interpretasie, ‘n oop spasie wat nie kan wag om gevul te word nie. Wat hierdie bundel besonders maak, is die tegniese vernuf daarvan. Resensente soos Joan Hambidge beskryf hom as ’n vorm- en rymvirtuoos wat klassieke digvorme soos die haikoe, sonnet, villanelle en rondeel meesterlik hanteer.

Möller het boonop die eerste volledige sonnettenkrans in Afrikaans geskep — ’n besonder moeilike digvorm waarin elke sonnet met die volgende verweef word en uiteindelik in ’n meester-sonnet saamvloei. As Oraniër is die verwysing van Kleingeluk en die agterlaat van Grootgewaagd noemenswaardig. Jakes is reeds vir baie jare betrokke en besit hy eiendom in Orania. Die vraag ontstaan vanself of hy in die toekoms nóg sal skryf en indien wel, watter genre sou dit dan wees? “Ek loop rond met ’n paar idees in my kop. Hopelik broei daar mettertyd iets interessants uit!” "Die digkuns fassineer my omdat daar soveel gesê (en verswyg) kan word in enkele sinne. Die spel met woorde en tegniek lei tot 'n verdigting van betekenis, waardeur die gedig op meer as een vlak gelees kan word. Verder kom die musikaliteit van die taal vir my by uitstek na vore in die digkuns, wat seker verklaar waarom gedigte dikwels getoonset word." Hierdie woorde laat die leser met verwagting, want Koorsboom bewys reeds dat Jakes Möller ’n unieke skrywer-digter in die Afrikaanse letterkunde is. Hierdie hardeband digbundel is beskibaar by Orania Skrywersgilde (082 2945145) en by turksvypublikasies.co.za

Van beeldtegnologie tot skep met woorde – foto 1
Voorblad van Koerania - Mei 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2026, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar