← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Twee nuwe name. Twee nuwe verhale

Met die groei in studentetalle het die behoefte vir nuwe koshuise by Bo-Karoo Opleiding ontstaan.

Groot Strijder Manskoshuis... vlnr staan Rossouw Dames (SR Voog), Johan Scholtz (Voog), Tommie Coetzee - onder primarius (akademie), Riaan Dippenaar – primarius (sport) en Walt Jackson – bemarking en openbare betrekkinge (kultuur en kunste).

Met die groei in studentetalle het die behoefte vir nuwe koshuise by Bo-Karoo Opleiding ontstaan. Strijder Manskoshuis en Fleur Daghuis. Albei name dra ’n geskiedenis en simboliek wat veel verder strek as bloot ’n naam op ’n embleem. Strijder Manskoshuis se naam vind sy oorsprong in die eeue oue stryd van die Afrikaner om oor onsself te regeer. Geskiedenis wat gekenmerk word deur volharding, vasberadenheid en die strewe om ’n identiteit en toekoms te behou. Die naam Strijder Manskoshuis simboliseer daarom die karakter wat nie maklik terugdeins nie, maar met moed en deursettingsvermoë sy pad vorentoe baan. Dit word treffend weerspieël in die ratel op Strijder Manskoshuis se embleem, ’n karakter wat krag, vasberadenheid en standvastigheid uitstraal. Só wil BKO jong manne kweek wat kan vasstaan in hul geloof, identiteit en selfstandigheid om eendag as volwaardige hoofde van hul eie huise te kan instaan. Fleur Daghuis se naam dra ’n besondere historiese betekenis. Fleur was die naam van Generaal

Christiaan de Wet se perd, wat die naam verbind aan ’n belangrike deel van ons geskiedenis en erfenis. Hierdie perd was sy konstante, sy getroue staatmaker. Dit is alles ook karaktereienskappe wat BKO as ‘n instelling by jong dames wil vestig. Terselfdertyd roep die naam Fleur die beeld van blom en groei op, gepas vir ’n nuwe damesdaghuis waar jong vroue saam groei, ontwikkel en hul eie unieke identiteite vorm. Die blomme in Fleur se embleem versterk juis hierdie simboliek van groei. Strijder Manskoshuis begin sy stryd. Fleur Daghuis begin blom. En albei koshuise begin ’n nalatenskap wat nog geskryf moet word! Dit is die begin van twee nuwe verhale, twee nuwe identiteite en twee nuwe nalatenskappe binne Bo-Karoo Opleiding.

Fleur Daghuis… Morné Pretorius (SR Voog), Kristie Obermeyer – bemarking en openbare betrekkinge (sport), Chené van der Merwe – primaria (akademie), Michelle Rust (Voog) en Leandri van Eeden – onder primaria (kultuur en kunste).

Voorblad van Koerania -Augustus 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2026, bladsy 9

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar