← Kultuur

· Deur Dia van Staden

Sheugnet laat Nelie leef

Sy trek ’n fassinerende lyn tussen hierdie stapel klippe en die Bybelse geskiedenis van Jakob, wat ’n klip gesalf en dit as die Huis van God aangewys het.

Sheugnet laat Nelie leef – foto 1

Van klipstapels tot karakters

In 2017 het ’n nuusbrief van die Suidlanders, met ’n kragtige skrywe deur Flip Swanepoel, die vonk verskaf wat Sheugnet Wentzel Jones se passie vir die geskiedenis van Paardekraal laat ontbrand het. Hoewel sy in haar skooljare nie juis ’n ywerige geskiedenisstudent was nie, het hierdie spesifieke brief haar genoop om dieper te delf in die gebeure wat die hart van die Boerevolk gevorm het. Haar navorsing het vinnig ’n merkwaardige patroon blootgelê: die gebeure by Paardekraal (1880) en Bloedrivier (1838) lê presies veertig jaar uitmekaar—’n tydperk wat dikwels in die Bybel as ’n generasie van loutering beskou word. Jones se bevindinge toon dat waar die Gelofte by Bloedrivier tot die bou van ’n kerk in Pietermaritzburg gelei het, die dieper betekenis van die klipstapel op Paardekraal dikwels vir die moderne geslag verlore gegaan het. Sy trek ’n fassinerende lyn tussen hierdie stapel klippe en die Bybelse geskiedenis van Jakob, wat ’n klip gesalf en dit as die Huis van God aangewys het. In 1880, ’n tyd toe die Boere deur Brittanje beset was en die Engelse aanspraak op die land toenemend "entitled" geraak het, was die Volksvergadering die sleutel om die vrymaking van die volk weer werkbaar te maak. Die spontane stapel van klippe deur duisende burgers was nie net ’n fisiese handeling nie; dit was ’n kragtige simbool van die herstel van gesag en republikeinse vryheid wat uiteindelik tot die Eerste Boereoorlog gelei het. Jones glo egter dat geskiedenis deur stories vertel moet word om werklik ’n impak op die gemoed te maak. Vir haar is koue datums en feite soos ’n vaal, grys film wat min mense roer. Daarom het sy Nelie geskep—’n fiktiewe dog lewensgetroue karakter wat die leser deur die intriges van oorlog, krisisse en menslike emosie lei. As ’n dromer en denker het Jones beelde van haar ouma op die plaas en vertellings uit ’n pionierswêreld sonder elektrisiteit gebruik om haar verhaal in te kleur. Sy het egter nie net op verbeelding staatgemaak nie; sy het ossewaens bestudeer en selfs perdrylesse geneem om die fisiese werklikheid van haar karakters se daaglikse bestaan te begryp en korrek te verwoord. Die skryfproses was vir Jones ’n reis van persoonlike ontwikkeling. Sy het begin met eenvoudige lyste van name en eienskappe, maar die karakters het eers werklik lewe gekry toe sy met lewendige beelde in haar kop begin werk het. Die verhaal, wat tussen 1880 en 1882 afspeel, is met groot sorg vir historiese akkuraatheid saamgestel. Sy moes fyn let op tegnologiese feite—soos die feit dat die heliograaf nog nie in die Verre Noord aangewend is tydens die Eerste Vryheidsoorlog nie, en dus nie daar algemeen beskikbaar was nie. Sy moes in haar storie sorg dat historiese figure soos Piet Cronjé nie voortydig tot generaal bevorder word nie. Vir Jones het hierdie werk haar insig gegee in die emosionele rykdom van daardie era en ’n nuwe logika vir die volk se verlede, hede en toekoms gebring. Hoewel die eerste boek oor Nelie en Faan voltooi is, het hulle haar bly spook, wat gelei het tot ’n tweede deel wat albei in die boek ingesluit is. Tans wag ‘n nuwe storie reeds op haar rekenaar. "Manne van die langpad," wat die lewens van diverse karakters in Pretoria verken, gryp tans haar verbeelding aan. Deur haar pen poog sy om die rykdom van die verlede toeganklik en verstaanbaar te hou vir die geslagte wat kom.

Voorblad van Koerania - Mei 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2026, bladsy 5

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar