
Die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk se Sekretaressedag is weer suksesvol aangebied.
'n Paar personeellede deel hul raad aan persone wat moontlik hul kantoorposisies sou oorneem.
Angel Otto
Angel Otto het as spreker opgetree tydens die Solidariteit Kantoorpraktisyns se vieringe van Sekretaressedag. haar tema: Kies jouself.
Danielle Struwig
Die waardevolste les wat ek met iemand kan deel, is om nooit die waarde van jou rol te onderskat nie. Jy is dikwels die eerste glimlag, stem en indruk wat iemand van ’n organisasie ervaar. Na vier jaar in my pos het ek geleer om elke dag met trots, liefde en ’n bereidwilligheid om te leer, te werk. Aan iemand wat my pos oorneem sal ek sê: koester elke oomblik, leer by die mense om jou en maak elke dag ’n verskil – al is dit soms in die kleinste dinge.
Linda Ferreira
Wees jou beste jy: gee aandag aan jou voorkoms, jou taalgebruik, jou houding, wees vriendelik, behulpsaam, leergierig, wakker en dapper en energiek. Jy is die maatskappy se eerste venster en jy verkoop jouself sowel as die maatskappy. Werk aan jou selfvertroue, telefoon-en-kommunikasievaardighede. Wees begrond in jou geloof en strewe na uitnemendheid. Indien jy vandag by my moet oorneem wees asseblief goed vir jou hoof, dra hom op jou hande, voer sy opdragte stiptelik en getrou uit. Wees altyd lojaal. Wees gelukkig in jouself, want dan kan jy dit uitstraal en ander om jou dien en gelukkig maak. Luister baie, somtyds wil iemand net praat. Wees getrou en trots in jou werk. Bly altyd op jou knieë vir jou kollegas. Wees dankbaar.
René Botha
Eerstens: Dis belangrik om te besef dat die persoon in hierdie pos die eerste kontak is vir mense vanuit die gemeenskap en ook van buite Orania. Besef dus dat jy ’n “beeld” uitdra. Tweedens: Ontwikkel jou eie ritme of roetine (solank jy binne spertye of sperdatums dit uitvoer). Derdens: Onthou jou prioriteit is om die kantoor vlot te laat verloop. Dit vergemaklik die lewe vir jouself en die Uitvoerende Hoof. Laastens: Geniet elke oomlik, onthou jou werk is belangrik en jy is waardevol vir almal rondom jou!
Yolande Swanepoel
As ek vandag vir ’n nuwe sekretaresse een les kon leer, sou dit wees: leer vroeg waar die koffie is – dit kan jou deur baie vergaderings dra! Wees georganiseerd, maar aanvaar dat daar altyd iets onverwags gaan gebeur. Moenie bang wees om vrae te vra nie en leer om te glimlag, selfs wanneer jou inkassie soos ’n berg voor jou lê. As iemand my pos moes oorneem, sou ek sê: pak ’n goeie sin vir humor in… jy gaan dit nodig kry!
Maureen Struwig
Om in ‘n nuwe werksomgewing in te stap, is altyd baie senutergend, of jy nou jare ondervinding het of ‘n nuweling is. My raad aan so persoon sal wees, behou jou waardes en eie identiteit, maar binne die werksomgewing en reëls. Moenie verander sodat mense van jou moet hou nie, ons is almal uniek. Geniet die ervaring wat jy gegun is, maak die beste daarvan “let your inner light shine” Ons lewe net eenkeer.
Elraine Maritz
As ek vandag een waardevolle les kon deel met iemand wat môre as sekretaresse begin, sou ek sê: moenie bang wees om vrae te vra nie. Ek het geleer dat jy elke dag iets nuuts leer, veral wanneer jy met ontvangs, administrasie én finansies werk. Aan die persoon wat my pos oorneem, sal ek sê: wees georganiseerd, geduldig en altyd bereid om ’n ekstra myl te loop. Jy is ’n belangrike deel van die span, al sien almal nie altyd alles raak wat jy doen nie.
Mathilda Hugo
Gee ten alle tye goeie ondersteuning, wees vriendelik en behulpsaam, verdra almal, al is jou werkgewer soms moeilik. Sprei jou vlerke in elke afdeling en jy word, onvervangbaar. Onthou, jy is die gesig, die voorblad van die besigheid, as jy lag, lag almal saam as jy lei volg ander, maar as jy traag is, verbitter jy almal.
Filicity Meyer
My beste raad aan ’n nuwe sekretaresse is om altyd ’n lysie te hê, mooi te luister en nooit bang te wees om vrae te vra nie. Dinge verander vinnig, so wees buigsaam en leer om jou prioriteite te bestuur. As iemand my pos moet oorneem, sal ek sê: wees geduldig met jouself, doen elke dag jou beste en onthou dat jy nie alles op dag een hoef te weet nie. Die res leer jy langs die pad.
Sybella Taljaard
Elkeen van ons moet onthou dat alhoewel jy dalk die kennis en ondervinding het is dit nog steeds ‘n vreemde plek wat inbeweeg word. Die mense verskil, die werksplek is anders, die atmosfeer is onbekend. My raad sal wees om net jouself te wees. Jy weet meer as al die ander wat jou potensiaal is. Ken jou waarde as mens, as vrou en stap in die geloof volgens Fil 4:13. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.













