
Toerismegesprekke is oplossingsgedrewe Drie unieke gespreksgeleenthede is gedurende 2025 vir genooide lede van die Orania gemeenskap geskep om saam te gesels oor die moontlikhede om toerisme in die dorp en omgewing te ontwikkel. Daar is gedurende Junie 2025 ‘n navorsingsdokument deur Werner Fourie, ‘n streekontwikkelingsekonoom en sekretaris van die Orania Sakekamer, saamgestel, wat as basis vir die gesprekke kon dien. Deelnemens aan die eerste twee gesprekke was dit eens dat daar baie werk is om die kwaliteit van die gasvryheidsbedryf en dienslewering in Orania oor die algemeen na ‘n volgende vlak te neem. Werner se navorsing het die volgende getoon: “Toerisme hou verskeie voordele vir Orania in. Die grootste voordeel is dat dit tot werkskepping kan lei en die omloop van geld in die dorp se ekonomie vermeerder. ‘n Ander voordeel van toerisme is dat dit kommunikasie en bande tussen verskillende gemeenskappe versterk.”
“Orania se eie arbeid en eie instellings is bemarkbare eienskappe wat unieke bemarkingsgeleenthede bring,” noem Dia. Volgens haar word die toerismegesprekke gekenmerk deur komplimente vir wat werk, maar praktiese en idealistiese voorstelle vir die verbetering van vele interne aspekte oorheers tans die gesprekke. Kommentaar wat tydens die gesprekke geopper was het die ontwikkeling van die huidige vliegveld tot ‘n volwaardige lughawe, sodat dit baie toeriste lok, ingesluit. Ander kommentaar wat genoem was: toegang en fasiliteite vir gestremdes ontbreek, kulturele inligting word nie bemarkbaar aangebied nie, die vooraansigte en tuine van besighede nie aantreklik is nie, indiensopleiding vir personeel om diens te lewer en beter te kommunikeer ontbreek en dat genoeg vars produkte nie plaaslik verbou word nie. Die afwesigheid van ‘n volwaardige hospitaal en meer mediese dienste, wat ‘n primere trekpleister vir nuwe inwoners sou wees, was as krities bestempel. Intussen het die Orania
Gesondheidsorg hul deure geopen. Gespreksgenote was dit eens dat dit tyd is om minder te praat en van rat te verwissel om ter wille van plaaslike besighede die toerismesektor te ontwikkel. Alhoewel toerisme in Orania geweldige groeipotensiaal kan ontsluit, lê daar verskeie gesprekke met die formele instellings voor om hiermee behulpsaam te wees deur geleenthede en ‘n werkbare model te skep of moontlik te maak. Stuur gerus ‘n e-pos na dia@mweb.co.za indien jy voorstelle het waarmee toerismemoontlikhede ontsluit kan word.
















