← Gemeenskap

· Deur Dia van Staden

Orania CVO-Skool mik vir groei met nuwe struktuur en hoof

'n Tyd van strategiese vernuwing het vir CVO-Skool Orania aangebreek.

Willie Nel
Willie Nel

'n Tyd van strategiese vernuwing het vir CVO-Skool Orania aangebreek. Met die fokus wat verskuif van fisiese fasiliteite na die innerlike "sagteware" van die skool, is die grondslag gelê vir 'n nuwe hoofstuk van groei en ontwikkeling. Die skoolbestuur het onlangs 'n herstrukturering van stapel gestuur, met die aanstelling van 'n nuwe skoolhoof, Susan Nieuwoudt, as 'n kerndeel van die plan. Die Opvoedingsraad het besluit dat die skool nie kan stagneer nie. Volgens Willie Nel, is die doel om nuwe uitvoerende kapasiteit te skep wat die skool na die volgende groeifase sal neem. "Ons beplan vir groei," sê hy. Die skool se bestaande groei was hoofsaaklik "sywaarts", en die doel is nou om 'n nuwe strategiese roetekaart vir 2030 te implementeer. Dié plan behels die herstrukturering van die skool en die herdefiniëring van die rolverdeling van die Opvoedingsraad en die skoolbestuur. Die kern van hierdie verandering is 'n hersiene organogram wat die skool op vier pilare bou: ·Akademie: Die skolastiese en akademiese fokus. · Skoolkultuur en Etos: Die behoud van die skool se unieke karakter. · Buitekurrikulêre aktiwiteite: 'n Fokus op sport en kultuur. · Korporatiewe Dienste: Die maatskaplike en administratiewe been van die skool. Die herstrukturering behels die heradvertering van middelvlakbestuurposte om by die korporatiewe been aan te pas, asook die aanstelling van fasehoofde. Die doel is om personeel te bemagtig en 'n duidelike struktuur vir besluitneming te skep. 'n Nuwe hoof vir 'n nuwe fase Die soektog na 'n nuwe hoof was 'n deeglike proses. Die Opvoedingsraad het 'n konsultant aangestel wat die kandidate met psigometriese toetse, verkennende gesprekke en gestruktureerde onderhoude geëvalueer het. Die uiteindelike keuse het op Susan Nieuwoudt geval, die huidige hoof van Koffiefontein Hoërskool, wat 'n sterk agtergrond in stelsels en strukture het. Sy het saam met 'n ander kandidaat 'n voorlegging gedoen om haar visie vir die skool te demonstreer. Haar aanstelling is 'n teken van die skool se verbintenis tot professionaliteit en 'n stewige administratiewe fondament. Nieuwoudt sal teen die vierde kwartaal by die span aansluit en is vol ywer vir die taak wat voorlê. Sy sien uit daarna om 'n uitvoerende rol te speel in die skool se strewe om die beste akademiese skool in die Noord-Kaap te word. "Ek is baie opgewonde om die leuse van die skool uit te lewe - tot eer van God en ter wille van ons kinders - deur die geloof," sê sy. Sy glo vas in die belangrike rol wat 'n vroulike leier vir kinders speel. "Jy as vrou wys vir 'n kind hoe 'n vrou selfversekerd, onafhanklik en veerkragtig kan wees," verduidelik sy. Sy beklemtoon dat 'n vroulike rolmodel emosionele intelligensie bou en seuns help verstaan dat ware sterkte ook deernis insluit. Nieuwoudt is 'n stelselmens met 'n passie vir dissipline en implementering. Sy wil die skool se maatskaplike been ontwikkel en verseker dat die groei in lyn is met die skool se nuwe wapen en die beeld wat hulle wil projekteer. Die pad vorentoe Die skool het reeds begin met die "hardeware" verbeterings, insluitend die aanplanting van vyf hektaar gras en die ontwikkeling van hokkievelde. Die nuwe fokus is nou op die "sagteware" – die mense. Nieuwoudt en die Opvoedingsraad is besig met die ontwikkeling van bestuursbeleide en die belyning van salarisskale met posvlakke om 'n duidelike en regverdige struktuur te verseker. Die nuwe hoof is positief en hoopvol. "Ek is 'n baie positiewe persoon wat die inspirasie wil wees in Afrikanerkinders se lewens," sê sy. "Ek sien uit om saam te werk met personeel wat dieselfde kultuurwaardes het en wat kinders opvoed om hulle plek as Christene in die bose wêreld vol te staan." Met hierdie nuwe rigting en leierskap is CVO-Skool Orania gereed om 'n nuwe era van groei en sukses te betree.

Susan Nieuwoudt
Susan Nieuwoudt
Voorblad van Koerania - Augustus 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2025, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar