← Sport

· Deur Koerania-redaksie

Opdraende was krampagtig: Christo Muller en die Comrades – Junie 2024

Die Comrades Ultra Marathon nommer 97 is op Sondag 9 Junie deur bykans 22 000 atlete gehardloop.

Christo Muller
Christo Muller

Die Comrades Ultra Marathon nommer 97 is op Sondag 9 Junie deur bykans 22 000 atlete gehardloop. Daar het al 470 000 atlete aan hierdie uitmergelende marathon deelgeneem. Dit is die wêreld se grootste, mees gewilde en oudste ultramarathon en tog trek dié uitdaging duisende om jaar na jaar weer deel te neem. Die blase, sweet, spierpyne en liggaamlike uitdaging ten spyt. Meer as 5 000 vrywilligers is deel van die span wat hierdie groot marathon organiseer. Alhoewel die Comrades nie in 2020 en 2021, weens die grendelstaat, gehou kon word nie, groei die deelnemerstal steeds. Oraniërs wat deel is van die Orania Atletiekklub het vanjaar weer die Oraniavlag hoog gaan swaai. Christo Muller het marathon 21 suksesvol gaan voltooi, Wayne McDermitt het sy vierde gehardloop, maar derde marathon voltooi en Joost Strydom het nommer 2 voltooi. Rikus Bronkhorst is tans ‘n uitwoner, maar het ook die marathon suksesvol voltooi. Gerda Steyn het haar derde wen ingepalm en vir vroue die ou rekord laat spat. Duitser, Piet Wiersma, het sy eerste oorwinning behaal. Christo Muller het met ‘n tyd van 10:07:30 klaar gemaak sy weergawe van gebeure met Koerania gedeel: “Daar gaan soveel emosies deur jou wanneer Chariots of Fire oor die luidsprekers speel. Die adrenalien pomp dan 10bar! Ek verkies beslis die af-marathon, al is dit verder. Na 20 keer se deelneem ken ek die bulte redelik goed, maar ek het weer besef dat die afwesigheid van Orania se bulte nie gehelp het nie. Ek doen dit weer-enweer omdat dit ‘n persoonlike uitdaging bly. Die kameraadskap en die gees rondom die paar dae is verslawend. Die voltooiing van die Comrades marathon sit jou in ‘n ander klas op sportgebied. Selfs ystermanne sê Comrades is vir hulle erger. Ek mik reeds om volgende jaar onder 9 ure te hardloop. Ek het op 65km in die 10uur bus (groot groepering van atlete waar die pas van hardloop en stap gereguleer word) geklim en dit het my deurgedra. Die aanmoediging van die skare dra elke atleet op die roete. Dié jaar het regtig vasbyt geverg. Ek het op 20km krampe in my kuite begin kry en dit het tot die einde aangehou. Ek was gou by die Groen nommerklub om my kos te kry, maar daar word ek toe buite die tent flou. Die mediese beamptes was binne sekondes daar om die pyn in my kuite te verlig, want die bloed het knoppe gemaak en hulle moes vryf om dit te laat losskiet.

Opdraende was krampagtig – foto 1
Voorblad van Koerania - Junie 2024

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Junie 2024, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar