← Gemeenskap

· Deur Sean Volschenk

Op soek na Jakob – Sean Volschenk – November 2025

Ek wou die gewone mense leer ken- die polsslag van die dorp oor so bietjie meer as drie dae, hul klein dramas en groot prestasies.

Sean en Ilze Volschenk besoek aan Orania
Sean en Ilze Volschenk besoek aan Orania

‘n Indringer se eerlike, soms tong-in-die-kies indruk van 'n dorp wat floreer, en hoe die mense dit doen. Waar Jakob en die Klein Jakob hand aan hand floreer.

Inleiding Ek het doelbewus nie Orania op 'n amptelike toer kom besoek om die leierskap vir die kamera te sien glimlag nie, alhoewel ek hulle nog ook wil kom ontmoet. Ek wou die gewone mense leer ken- die polsslag van die dorp oor so bietjie meer as drie dae, hul klein dramas en groot prestasies. Ek was op soek na die ware Jakob van die dorp- nie 'n individu nie, maar die gees van 'n gemeenskap wat floreer sonder dat iemand vir jou vertel hoe. En my hemel, ek het dit gevind. Dit lê in die strate, die kuierareas, selfs in die klein gebare van elke inwoner wat opstaan, werk doen en die dorp laat leef. Selfs al stap hulle bakstene vir hul eie huis, vind hulle tyd om vrolik te waai en groet. Dis 'n plek waar die gewone en die buitengewone naatloos saamvloei- soos koffie en beskuit op 'n Saterdagoggend, maar met 'n bietjie minder suiker en 'n bietjie meer karakter. Veiligheid en Eerste Indruk As Suid-Afrikaner waardeer jy veiligheid soos goud. Orania bied dit nie net in die afwesigheid van misdaad nie, maar ook as 'n gevoel van rustigheid wat jou laat asemhaal. Die strate is skoon en netjies; jy voel welkom, maar jy besef ook dat jy as indringer jou tone liggies moet opstoot- nie omdat hulle onaardig is nie, maar omdat hulle jou gees lees soos 'n boek. Mense en Gemeenskapsgees Hier is mense wat anders dink, anders praat, en op verskillende maniere hul dag aanpak. Tog deel hulle almal dieselfde einddoel- 'n werkende, blomende gemeenskap. Dis amper soos 'n koor waar elkeen sy eie noot sing, soms skeef, soms onverwags, maar wanneer die simfonie klaar is, is dit suiwer mooi. Dit werk. Die ware Jakob lê in die manier waarop hierdie uiteenlopende mense saamwerk, mekaar respekteer, en vasbyt aan gedeelde waardes. Geloof as Bindmiddel

Orania se gees kan nie verstaan word sonder om die geloof in ag te neem nie. Alhoewel daar twaalf kerke vir elke tien mense mag weestipies Afrikaans- loop 'n ongesiene draad van Christelike waardes deur die dorp. Dit is nie net prediking nie; dit is dade: mense wat mekaar help, hul omgewing skoon hou, en selfs die kleinste gemeenskapstake ernstig opneem. Hierdie draad van geloof is soos 'n geheime gom wat die dorp bymekaar hou. Besighede en Ekonomie Vir 'n klein dorp is die aantal besighede verbasend. Daar is byvoorbeeld vyf slaghuisies vir 'n populasie wat jy sou dink met twee kan klaarkom- nie hier nie. Dis die vryemark in aksie: jy wil jou klante hê, jy gee jou beste diens, of jy gaan dit nie maak nie. En glo my, iemand anders wag net om jou perseel oor te neem en iets daar te kom maak werk. Die dorp skep werk, lok nuwe mense en bied almal die kans om 'n rol te speel. Hier word nie gewag vir groot staatsprojekte nie; hier word net gedoen. 'n Lughawe: Sleutelfaktor vir Groei Orania het reeds 'n klein vliegveldindrukwekkend genoeg om 'n basis vir 'n volwaardige lughawe te wees. Dis nie net 'n strook grond nie, dit is 'n simbool van moontlikhede. 'n Betroubare, bekostigbare lughawe met gereelde vlugte na streek- en nasionale lughawens sou toerisme laat blom, mense die dorp regtig laat beleef, en dienste en besighede stimuleer. Ek dink aan 'n scenario waar gesinne hul kinders in goeie skole het en die huis in 'n veilige, skoon en goed bestuurde gemeenskap kan los, terwyl die man of vrou vier of vyf dae in 'n stad soos Johannesburg of Kaapstad werk, en naweke huis toe kom. Die lughawe maak dit moontlik om Orania nie net van ver te sien nie, maar ook gemaklik te beleef- wat die dorp se aantrekkingskrag as toeristebestemming en toekomstige vestigingsplek verhoog. Boustyl en Identiteit Die strate is skoon, maar 'n samehangende boustyl wat Noord-Kaap-karakter en Orania se kultuur weerspieël, kort, en sou die dorp se identiteit versterk. Meeste mense bou hul huise self, baksteen vir baksteen, in die son, met toewyding en harde werk. 'n Duidelike, bekostigbare boustyl sou nie net die dorp se identiteit skep nie, maar ook meer mense lok en die gemeenskapsgees visueel versterk. Swembad en klein kritiek Die dorp swembad en kuierareas is skitterendperfek vir 'n warm dag. Die mans-toilette het egter my wenkbroue lig so- bouvallig en erg vuil, veral omdat 'n fooi gevra word om te swem. Ek verstaan dat fondse op die plan is, maar aandag hieraan sou die ervaring net versterk. Die res van die fasiliteite wys dat Orania nie net praat nie- hulle doen. Koerania: Raar maar Waar By die Koerania Raar maar Waar-funksie het ek die dorp se gees regtig beleef. Uitstekend georganiseer en soveel pret. Wat 'n fees en 'n geleentheid om die inwoners van Orania te beleef net soos hulle is, as hulle saam kom. En als vir liefdadigheid en ten opbouing van die dorp. Mense lag, werk saam, en selfs die kleinste take so- soos die saal skoonmaak ná die aand se kuier- word sonder gemor gedoen, en hulle skroom nie om die strepe wat die indringers met die mop op die vloer los, uit te wys nie. Jy sien respek, verantwoordelikheid en samehorigheid in aksie so- nie net in groot projekte nie, maar in die gewone dinge wat die siel van die plek vorm. Die Klein Jakob Terselfdertyd het ek subtiel die jong Jakob- die kinders en tieners- dopgehou. Die skole en programme is indrukwekkend: sport, akademie en kultuur word deeglik gedek. As indringer is dit net 'n klein waarneming dat daar dalk iets kan broei wat nie altyd onmiddellik raakgesien word nie. Ek was te kort daar om my vinger daarop te kan sit, maar ek glo en vertrou die dorpsmense sal daar kort dalk fokus op die jeug. 'n Herinnering dat die klein Jakob, die toekoms van hierdie gemeenskap, sorgvuldig gekoester en opgevolg moet word. Ter afsluiting Orania is nie perfek nie, maar dit floreer. Die ware Jakob leef in elkeen van sy inwoners: mense wat werk, glo, saamwerk en hul gemeenskap bou. En die klein Jakob? Hulle is die toekoms, en dit is net so belangrik om hulle te koester en te begelei. Orania wys hoe 'n gemeenskap op waardes, respek en doelgerigtheid kan floreer so- en ek vertrek met die gevoel dat ek nie net die dorp gesien het nie, maar die gees van sy mense beleef het. Die besoek los my beindruk en gretig om weer te kom kyk, en meer te sien.

Voorblad van Koerania - November 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – November 2025, bladsy 8

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar