← Gemeenskap

· Deur Dia van Staden

Nadia werk na die herstel van vroue se waardigheid

Nadia Schietekat is die enigste fisioterapeut in dié gebied wat spesialiseer in vrouegesondheid met ’n spesifieke fokus op die pelvis (bekkenbodem).

Nadia werk na die herstel van vroue se waardigheid – foto 1

In die hartjie van die Noord-Kaap is daar ’n unieke diens beskikbaar wat dikwels in die skaduwees van algemene mediese praktyke bly, maar wat ’n lewensveranderende verskil aan vroue se lewenskwaliteit kan maak. Nadia Schietekat is die enigste fisioterapeut in dié gebied wat spesialiseer in vrouegesondheid met ’n spesifieke fokus op die pelvis (bekkenbodem). Vir Nadia is dit meer as net ’n beroep; dit is ’n roeping om vroue se waardigheid vir hulle terug te gee. Vrouegesondheid dek ’n breë spektrum wat dikwels misgekyk word. Of dit nou gaan oor uitdagings tydens of ná swangerskap, herstel ná kankerbehandeling (soos servikale of vaginale kanker), of die simptome van menopouse en perimenopouse, die regte fisioterapeutiese ingryping is deurslaggewend. Baie vroue aanvaar ongemak, pyn of probleme soos inkontinensie as ’n normale deel van veroudering of moederskap. Nadia se boodskap is duidelik: "Jy hoef nie die probleem te aanvaar nie. Dit hoef nie jou norm te wees nie." Die toestande wat sy behandel, sluit in rektale en vaginale prolaps, pyn tydens intimiteit, skeurings ná geboorte, buikpyn en hormonale veranderinge. Selfs kinders wat sukkel met die aanvanklike gebruik van ‘n potjie of persone met spinale beserings kan baat vind by neurologiese hulp om beheer te herwin. ’n Konsultasie by Nadia is deeglik en neem gewoonlik een en ’n half tot twee uur. Pasiënte voltooi vooraf ’n vraelys wat beide mediese en intieme gesondheid dek. Sy volg ’n sielkundige benadering en respekteer elke vrou se grense; geen pasiënt word gedwing om ’n intieme ondersoek te ondergaan as sy nie daarmee gemaklik is nie. In

Orania doen sy graag hierdie konsultasies by die vrou se huis, sodat sy in haar eie veilige spasie kan ontspan. Nadia beklemtoon die skakel tussen trauma, spanning en die fisiese liggaam. Trauma oorlaai die sentrale senuweestelsel, wat dikwels lei tot hoë kortisolvlakke. Sy verduidelik dat slegs vyf minute van doelbewuste asemhaling kortisolvlakke met tot 60% kan verlaag. Hierdie holistiese benadering, wat dikwels Pilatesasemhalingstegnieke insluit, help om die pelvisspiere te ontspan en pyn te verlig. Een van die belangrikste aspekte van haar werk is om die taboe rondom intimiteit te breek. Spanning en die "veg-of-vlug"-reaksie van die moderne lewe is die grootste vyande van libido. Nadia bied seksopleiding en oefeninge aan om vroue te help om weer in voeling met hul liggame te kom. "Ons praat nie genoeg oor intimiteit en seks nie," sê sy.

"Dit is ’n belangrike gesprek, ongeag hoe konserwatief jy is." Dit neem gewoonlik ses tot twaalf weke om ’n merkbare verskil te sien, aangesien nuwe gewoontes aangeleer moet word, maar die resultate is die moeite werd. Nadia vra tans normale konsultasiefooie vir hierdie spesialisdiens omdat sy voel dit is noodsaaklik dat elke vrou toegang tot hierdie hulp het. Vroue wat meer inligting verlang of ’n afspraak wil maak vir ’n konsultasie in Orania of Hopetown, kan ’n WhatsApp-boodskap stuur na 083 659 3134. Nadia sal elke navraag persoonlik opvolg om die pad na herstel saam met jou te stap.

Jy hoef nie die probleem te aanvaar nie. Dit hoef nie jou norm te wees nie.

Nadia werk na die herstel van vroue se waardigheid – foto 2
Voorblad van Koerania - Mei 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Mei 2026, bladsy 3

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar