
Die Bloemfontein Battlegrounds, ‘n funksionele fiksheidskompetisie, is op Saterdag 14 Maart aangebied.
Nadia Kuit, ‘n maatskaplike werker van Orania Helpmekaar is ‘n bekende gesig wanneer dit by enige uitdaging oor krag en fiksheid gaan. “Dit was rof, dit was taai, dit was bitter lekker. En wanneer jy dink jy raak moeg… hou aan beweeg. Wat ‘n resies!” beskryf sy in haar
Facebookinskrywing na haar wenpoging vir solo vroue! Individue kon in spanverband vir mans of vroue of gemeng deelneem. In die verskillende afdelings van 10 rondtes moes Nadia byvoorbeeld bande omdop, baie swaar emmers dra, kraploop doen en tussen elke stasie moet atlete 500m na die volgende stasie hardloop. Alles gebeur binne die vinnigste moontlike tyd. Koerania wens Nadia geluk met haar oorwinning!




