← Sake

· Deur Dia van Staden

‘n Nuwe era van belegging

Volgens Fourie is die primêre doel van die inisiatief om Orania se ekonomiese vooruitgang te dien.

Werner Fourie
Werner Fourie

Vir dekades lank is Orania hoofsaaklik as ’n politieke projek bemark, maar as dit van Werner Fourie en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM) afhang, is die dorp vinnig besig om as ’n ernstige ekonomiese bestemming te ontwaak. Met die beplanning van ‘n kantoor wat op die ekonomiese ontwikkeling van Orania sal fokus, is volhoubare groei, infrastruktuur en die lok van doelgerigte kapitaal in die kollig. Volgens Fourie is die primêre doel van die inisiatief om Orania se ekonomiese vooruitgang te dien. Waar die politieke boodskap voorheen oorheers het, word die ekonomiese narratief nou verskerp. Fourie glo die dorp het reeds die nodige voorwaardes vir groei geskep: deurlopende infrastruktuurontwikkeling, uitnemende munisipale dienste, veiligheid en ’n stabiele lewenskwaliteit tussen eie mense. “Ons het ’n bemagtigende omgewing gebou, maar die boodskap is nog nie wyd genoeg onder sakelui bekend nie,” sê Fourie.

Die kantoor wil Orania nou aktief as ’n ekonomiese trekpleister bemark, eerder as net ’n kulturele tuiste. OOM se strategie is tweeledig: 1. Dit is eerstens om Orania se waardeaanbod aan sakelui te bemark. 2. Tweedens is dit om die sakelui te help met arbeid, ‘n perseel en aansoekprosesse om in Orania te vestig. Om hierdie proses te vergemaklik, word die OOM-webwerf tans herontwerp om as ’n volledige "eenstopplek" vir voornemende sakelui te dien. Van verblyfregprosesse tot inligting oor die werkinge van Orania se ekonomie. Daarbenewens sal daar moontlik in die nabye toekoms ’n formele program vir potensiële beleggers ingestel word, wat dorpstoere en gesprekke met kontakpersone insluit. Wat die toekoms betref, fokus Fourie op die streek se sterk punte. Hy sien groot geleenthede in die landbou, maar ook in lae-volume, hoë-waarde produkte soos juwele. Toerisme, e-handel en die uitvoer van kennis is eweneens op die radar. ’n Opwindende, dog langtermyn-item op die wenslys, is die ontwikkeling van lugvaartdienste en ’n sentraal-geleë provinsiale lughawe om handel te bevorder. Fourie daag ook die algemene "skaarsheidsmentaliteit" uit wat dikwels deur die media gedryf word. Met verwysing na die boek Superabundance, beklemtoon hy dat innovasie en menslike kreatiwiteit waarde toevoeg wat fisiese beperkings oorskry. "Die enigste ware tekort in die wêreld is tyd," meen hy. Vir die afgelope 35 jaar het Orania sy politieke idees suksesvol aan die wêreld uitgedra en nou is dit nodig om ook ons ekonomiese stem te hef. Die sukses van hierdie ekonomiese uitbreiding sal uiteindelik op gemeenskapsbetrokkenheid berus. ’n Formele bekendstelling word beplan sodat inwoners hul eie netwerke kan inspan om die boodskap te versprei. Vir Orania gaan die toekoms nie net oor oorlewing nie, maar oor ’n vryemark-gedrewe floreerfase wat as model vir die res van die land kan dien.

Voorblad van Koerania - Maart 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Maart 2026, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar
Foto by die berig: Wes-Kaap kenner kom kuier
Sake/

Wes-Kaap kenner kom kuier

Abri Ferreira, President van die Oudtshoorn Besigheidskamer, het Orania onlangs besoek en die feite rondom die hantering van B-BBEE vir kleinsake aangespreek.

Deur KoeraniaLees berig