
Die woord “vryheid” is ‘n term wat gereeld in Orania gebruik word. As jy iemand in Orania byvoorbeeld vra waarom hulle hierheen verhuis het sal jy dikwels die antwoord kry dat hulle daarheen verhuis het “om vry te wees.” Skerp joernaliste sal met die aanhoor van so ‘n antwoord vra wat dit beteken om vry te wees waarop verskillende mense verskillende antwoorde sal gee. Een van die vryhede wat hoog aangeslaan word is die vryheid om na donker in die straat te loop, jou kinders met vrymoedigheid te laat buite speel en die vryheid om ‘n goeie nagrus te geniet. Dié vryheid loop hand aan hand met veiligheid en is waarskynlik een van die redes waarom die meeste mense na Orania verhuis. Nog ‘n vryheid is om in jou eie taal te kan handeldryf. Of dit as besigheidseienaar is wat sy produkte in Afrikaans adverteer of die kliënt wat in Afrikaans bedien word – die vryheid om handel in jou eie taal te bedryf moenie geringgeskat word nie. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die term vryheid nie dieselfde vir almal beteken nie. Een persoon se definisie van vryheid en ‘n vry gemeenskap is nie noodwendig dieselfde as n volgende persoon s’n nie. So vind daar byvoorbeeld tans ‘n openbare deelnameproses in Orania plaas wat onder meer kyk na die handelsure van kuierplekke in Orania. Vir sommige, veral die groeiende getal studente, is dit ‘n basiese vryheid om tot na middernag nog by ‘n kuierplek te sosialiseer, terwyl ander sal voel dat restaurante en kroeë liefs lank voor daardie uur hulle deure moet sluit. Een punt waaroor almal wel sal saamstem is dat ‘n persoon nie van sy reg om ‘n goeie nagrus te geniet ontneem moet word nie. Een se vryheid behoort nie ‘n ander s’n in te perk nie. ‘n Meer onlangse, en dalk meer omstrede voorbeeld, handel oor die openbare deelnameproses oor die moontlikheid om ‘n tattoeërateljee in Orania oop te maak. Die meerderheid insette wat gelewer is het daarteen beswaar gemaak. Daar was wel diegene wat dit ondersteun het en die vryheid wil geniet om in Orania toegang tot so ‘n diens te geniet. Hulle gaan egter steeds die vryheid uitoefen om ‘n tattoeërmerk te kry sou hulle oor daardie behoefte beskik, maar die geld sal op ‘n ander plek bestee word. Die vraag wat met die teenstand van die aansoek gepaardgaan is of die teenwoordigheid van ‘n tattoeërateljee ander se vryhede sou ondermyn. Niemand sou immers ‘n tattoeërmerk teen hulle sin gekry het nie. Die vryheid van keuse. Orania is ‘n groeiende gemeenskap wat in die toekoms nog dikwels met verskillende perspektiewe te doen gaan kry. Selfs oor die betekenis van wat iets soos vryheid beteken. Dit is belangrik om nou reeds ‘n kultuur te kweek waarbinne gesonde debatte met vrymoedige deelname kan plaasvind.




