← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Meningsopname: Wat wil vakansiegangers in Orania beleef? – Januarie 2026

Die toeriste wat Orania besoek wil die Afrikanerdom in werking sien.

Cara Tomlinson
Cara Tomlinson

Wat wil vakansiegangers in Orania beleef of ervaar? Daar word jaarliks ‘n vakansieprogram saamgestel. Dit blyk egter of besoekers nie juis die aktiwiteite bywoon nie. Wat moet ons aanbied?

Jan Snyder

Die toeriste wat Orania besoek wil die Afrikanerdom in werking sien. Lewende museums, tradisionele musiek, kwaliteit toneel. En die meer gegoedes soek Bergfietsroetes, ten minste 'n gholfdryfbaan en avontuurkampe.

Elmarie Lambrechts

Die vakansieprogram moet op ‘n ander platform geadverteer word, want besoekers het nie toegang tot die platforms waar dit geadverteer word nie. Ek is onseker of gastehuiseienaars die vakansieprogram voor die vakansie beskikbaar het, sodat dit met besoekers gedeel kan word, en hul dan vir meer as een aand bespreek

Cara Tomlinson

Die Krugerkonsert is baie goed bygewoon deur besoekers - daar was baie min Oraniërs. Ek maak dus die afleiding dat besoekers ‘n kultuurervaring of iets in die lyn soek. Ek dink mense ontspan en wil nie noodwendig afspraak gebaseerde aktiwiteite bywoon nie. Dalk informele waterspeletjies vir kinders by die swembad, ‘n buitelug fliek, ‘n sterrekyk geleentheid of iets in die lyn van stalletjies en liggies wat mens kan bywoon, waar ‘n lekker atmosfeer met musiek en kos heers.

Nicolette Ebersohn

Gastehuise het baie gaste wat net 1 aand oorslaap. Hulle arriveer laatmiddag en slaap op pad na hulle bestemming. Ek verwys hulle gewoonlik dan na ‘n gepaste restaurant. Baie wil soveel moontlik binne 2 ure sien. Ek probeer altyd op hoogte bly wat in Orania gebeur om gaste ingelig te hou. Die wat net 1 aand oorbly, is regtig so moeg, hulle eet en slaap net. Ek moet soms vreeslik soek na aktiwiteite op verskillende bladsye, om te deel met my gaste. As iemand dalk op ‘n weeklikse basis die advertensies kan deel van aktiwiteite vir die komende week, en vra dat gastehuise moet deel, sal dit ook help om dalk meer mense te kry by Orania se aktiwiteite.

Dawie Delport

Mense slaap een aand oor omdat dit duur is. Geld is nie so los soos wat dit altyd was nie. Om besoekers te trek moet mens meer pamflette versprei, Besoekers woon nie aktiwiteite by nie omdat hulle nie weet wat gebeur nie. Ons het beter manière van bemarking nodig.

Dawie Delport
Dawie Delport
Nicolette Ebersohn
Nicolette Ebersohn
Jan Snyder
Jan Snyder
Elmarie Lambrechts
Elmarie Lambrechts
Voorblad van Koerania - Januarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2026, bladsy 10

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar