← Nuus

· Deur Koerania-redaksie

Meningsopname: Orania en die munisipale verkiesing – Januarie 2026

Hierdie verkiesings word elke vyf jaar gehou.

Carel Boshoff IV
Carel Boshoff IV

Watter politieke invloed sal die Munisipale verkiesing van November 2026 in SA op Orania hê?

Die Suid-Afrikaanse munisipale verkiesing van 2026 is ‘n komende verkiesing in Suid-Afrika, wat dien om rade vir alle distrik-, metropolitaanse en plaaslike munisipaliteite in elk van die land se nege provinsies te verkies. Hierdie verkiesings word elke vyf jaar gehou.

Wynand Boshoff

Alle verkiesings, maar veral munisipale verkiesings, stel Orania voor groot politieke uitdagings. Ons ken dit al, maar met ’n bevolking wat teen 10% per jaar groei, is daar elke vyf jaar meer as ’n derde van ons inwoners vir wie dit nuut is. Daarom moet ons leiers na buite én na binne kommunikeer en moet ons inwoners, uiteenlopende sienings in ag genome, hulle deel doen om ons selfbeskikking te laat groei. Daartoe is deelname aan die OVR-verkiesing die sleutel, terwyl die slagysters wat joernaliste en politici stel, vermy moet word.”

Carel Boshoff IV

Orania hou ons eie plaaslike munisipale verkiesings en vier ons vryheid deur vir ons eie plaaslike regering te stem. Die OVR het die uitsonderlike status deurdat dit die enigste onafhanklike plaaslike regering in Suid-Afrika is. Dit maak egter nie hierdie verkiesing van minder belang nie, omdat ons juis hier Oraniërs verkies om as ons eie plaaslike regeringsinstelling te dien. So neem ons ons republikeinse verantwoordelikheid op. Ons eie plaaslike regering is dus meer as net 'n simboliese instelling, maar die daadwerklike vergestalting van ons volk se politieke identiteit.

Pieter Krige

Ek glo nie die uislae van die komende munisipale verkiesing gaan 'n direkte invloed op Orania hê nie. Ek glo dat die verkiesing egter 'n beduidende swaai na die meer gematigde partye soos die DA, VF Plus en die IVP gaan hê en dat die gesindheid van plaaslike owerhede teen Orania gaan verbeter. Hierdie swaai gaan deursuur na die volgende algemene verkiesing waarna die gesindheid teenoor Orania verder sal verbeter en positief sal meewerk tot Orania se vryheidstrewe.

Johan Kriek

Die plaaslike verkiesing behoort min invloed op Orania uit te oefen, tensy Thembelihle ‘n raad verkies wat aktief probeer om Orania te benadeel. Tans is Orania ‘n oorlegsone en word só in Thembelihle se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) erken. Dit behels dat Orania wel deel van die munisipaliteit is, maar sy eie sake bestuur en dat die twee instellings niks aan mekaar verskuldig is nie. Die slegste scenario is dat ‘n nuwe raad dit omkeer. Orania se status verg steeds beskerming.

Johan Kriek
Johan Kriek
Pieter Krige
Pieter Krige
Wynand Boshoff
Wynand Boshoff
Voorblad van Koerania - Januarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Januarie 2026, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar