
Die Kosmol huisves heelwat meer opsies vir ‘n honger en dors individu. Dié ruimte bied ‘n groot verskeidenheid ontbyte, middagetes en wegneemetes. Die immergewilde Toffiewinkel kan ook by die Kosmol besoek word. Jan Snyder, eienaar van die Kosmol, het onlangs ‘n projek van stapel gestuur waar ‘n Samaritaan ‘n bydrae kan maak tot ‘n minder bevoorregte se behoeftes. Persone wat die vermoë het om ‘n ekstra koffie, soetigheid of ete vir ‘n persoon te koop wat dit nie kan bekostig nie, kan by die
“Ons gee om vir mekaar” bord ‘n draai gaan maak. Jan vertel: “Enige persoon kan vir ‘n ete of drinkding vooruit betaal en die strokie word op ons omgeebord aangebring. ‘n Behoeftige persoon kan enige van die strokies neem en daardie item of items opeis deur dit vir die personeel van die Kosmol te oorhandig. Die items sal sonder enige vrae voorberei en oorhandig word.” Die hele idee is dat ons empatie toon vir mense wat nie dieselfde voorregte as ons geniet nie. Die publiek word uitgenooi om hul bydraes te maak en iemand anders se dag op te helder.




