← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Jessika en geskiedenis loop soos stroop

Geskiedenis leef wanneer jongmense dit leer en ontdek.

Jessika en geskiedenis loop soos stroop – foto 1

Geskiedenis leef wanneer jongmense dit leer en ontdek. Die FAK se Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade gee aan leerders die geleentheid om hul kennis van geskiedenis te verdiep – en vanjaar is daardie kennis behoorlik gevier met die bekroning van die wenners. Wat hierdie projek besonders maak, is dat dit veel meer as net ’n kompetisie is. Dit skep ’n ruimte waar jongmense deur geskiedenis kan leer oor die verlede, hul erfenis beter kan verstaan en nuwe perspektiewe kan ontwikkel. Met deelname van leerders reg oor Suid-Afrika én internasionaal word ’n nuwe geslag se belangstelling in geskiedenis aangewakker. Die twee algehele wenners is Joshua Joubert, ’n Graad 5-leerder van Laerskool Jan Celliers, wat met ’n indrukwekkende 97,00% eerste onder die laerskoolleerders geëindig het, en Raynard Bosman, ’n Graad 11-leerder van Hoërskool Pretoria-Noord, wat 94,00% behaal het om as die algehele hoërskoolwenner aangewys te word. Die FAK se Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade bewys dat geskiedenis nie bloot iets is wat in handboeke geleer word nie. Deur jongmense aan te moedig om hul familiegeskiedenis, plaaslike erfenis en die groter historiese verhaal te verken, word die verlede ’n lewende werklikheid waarmee hulle hul identiteit en gemeenskap beter kan verstaan. Soos oom Paul Kruger se bekende woorde lui: “Want wie vir hom ’n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie. Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en trag om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik.”

Graad 9 wenner… Jessika Badenhorst, Orania CVO-Kuberskool, met 'n punt van 89.80% wen sy die FAK se Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade vir haar graad. Koerania het met Jessika gesels om haar bietjie beter te leer ken: 1. Waarom is geskiedenis vir jou belangrik? Geskiedenis is vir my belangrik, omdat ek glo dit is baie voordelig en noodsaaklik om te weet van waar af jy kom. Om die verhaal agter jou land, taal en kultuur te ken is ook ʼn groot voorreg wat ons het en nie tot niet moet laat gaan nie. Ons het soveel kennis tot ons beskikking en so ‘n ryke geskiedenis. Iets wat nog altyd vir my baie belangrik was, is om nie net te kan sê vir wat ons staan nie, maar ook die hoekom daaragter. Ons geskiedenis is natuurlik gevul met lesse waaruit ons kan leer en voorbeelde van standvastigheid in geloof en vertroue in God wat ons in ons daaglike lewens kan toepas. Om ten volle ons toekoms te kan ervaar moet ons die verlede ken en weet alles is genade van God. 2. Wat is jou gunsteling vak/ke op skool? Om ʼn gunsteling vak te kies is moeilik. Ek geniet natuurlik Geskiedenis, veral as ek nuwe goed leer wat ek nie voorheen geweet het nie. Bybel, Kuns en Kultuur en beslis Tegnologie, veral die tekeninge en gasvryheidafdelings. Ek geniet dit baie om kreatief te wees, so dit is nogal vir my lekker om opstelle te skryf. Veral as dit ʼn navorsingstaak is waar jy soveel kan skryf as wat jy wil. Ek vind dit baie kalmerend om te skryf, daar is iets so wonderlik daarin om jou gedagtes om te sit in ʼn kunsvorm. 3. Wat geniet jy daarvan om 'n Kuberskolier te wees? Ek geniet dit om ʼn Kuberskolier te wees, omdat ek meer vryheid het as dit kom by goed soos die area waar ek werk, die volgorde waarin ek my vakke doen en wanneer ek my werk doen. Jy leer selfstandigheid en dissipline wat jou baie sal help in die toekoms. Om by die huis te wees is ook natuurlik lekker, omdat ek kan motorfiets ry in my "pouse" tyd.

Voorblad van Koerania - Oktober 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2026, bladsy 4

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar