
Wat sê Kleinsake van toekomstige besigheidsgeleenthede in Orania? ·Watter industrie kan werk skep? ·Watter industrie of tipe besigheid kan ekonomiese groei bewerkstellig? ·Wie se verantwoordelikheid is werkskepping en ekonomiese groei, volgens jou?
Stephan du Plessis – Die Koekiemonster
Ek dink in 'n vryhandel-ekonomie berus werkskepping by die privaatsektor, maar noue samewerking en ondersteuning van die owerheid is baie belangrik. Ons kort 'n amptelike toerismekantoor wat aktief met alle partye saamwerk om Orania te bemark, nie net as 'n Afrikanertuiste nie, maar as 'n naweek-wegbreek. Om dit te laat slaag moet ons fokus op aktiwiteite en gebeurtenisse vir elke naweek, wat nie net plaaslike inwoners teiken nie, maar spesifiek buitebesoekers. Ons inwonertal kan net soveel nuwe besighede ondersteun. Ons kort 'n konstante vloei van eksterne voete, m.a.w. toerisme. Sonder 'n gekoördineerde poging deur privaatsektor en owerheid gaan dit egter nie slaag nie. Sonder eksterne voete, neem elke nuwe besigheid wat oopmaak eenvoudig weg van bestaande besighede. Party maak toe, nuwes weer oop, 'n bose kringloop. Laastens, ondersteun daadwerklik plaaslik, nie net in naam nie.
Martin Jordaan
Besighede wat fokus op uitvoer produkte en nie dink hulle gaan oorleef van die Orania gemeenskap nie. • Watter industrie kan werk skep? Verwerkers van landbouprodukte uit die omgewing wat 'n mark buite Orania vir verwerkte produkte kan skep. • Watter industrie of tipe besigheid kan ekonomiese groei bewerkstellig? Waardetoevoeging van produkte uit Orania en omliggende landbou gebied, wat produkte kan uitvoer en sodoende valuta laat invloei. Ook kundigheid wat uitgevoer word. • Wie se verantwoordelikheid is werkskepping en ekonomiese groei, volgens jou? Die sakeman wat die plan het. Wat wel sal help is as daar waagkapitaal vir klein sake is en veral aanvangs en bedryfskapitaal, daarmee saam 'n mentor program wat kleinsake ondernemers kan bystaan en raad gee.





