← Kultuur

· Deur FAK

Heldedag op oom Paul se verjaardag

Orania en sy gemeenskap vier elke jaar op 10 Oktober Heldedag en onthou die Boere-helde wat ‘n groot impak op die geskiedenis gehad het.

Heldedag op oom Paul se verjaardag – foto 1

Orania en sy gemeenskap vier elke jaar op 10 Oktober Heldedag en onthou die Boere-helde wat ‘n groot impak op die geskiedenis gehad het. Oud staatspresident Paul Kruger is op dié dag in 1825 gebore. Op 10 Oktober 2025, 200 jaar na sy geboorte, is die Paul Krugermonument in Orania opgerig. Vanjaar het Oraniërs Heldedag gevier met 'n tradisionele Afrikanerbraai op dié einste erfenisterrein. Daar is saam met die Orania Beweging gebraai, met 'n pangeweer geskiet en Afrikaner-volksliedjies gesing. Afrikaners is plesierig, en dan maak hulle so!

FAK: Die verhaal van Oom Paul Op 10 Oktober 1825 is ’n seun met die naam Stephanus Johannes Paulus Kruger op die plaas Bulhoek naby Steynsburg gebore. Min sou daardie dag kon voorspel watter rol dié plaasseun uiteindelik in die geskiedenis van Suid-Afrika sou speel. Sy kinderjare het hom vroeg met die harde werklikheid van die trekpad kennis laat maak. Op net 11-jarige ouderdom het Paul Kruger saam met sy ouers aan die Groot Trek deelgeneem. Hy was ook by Vegkop toe die treklaer deur die Matabeles aangeval is. Die trekpad was vir hom ’n skool op sy eie. Hy het feitlik geen formele onderwys gehad nie, maar deur die lewe en sy ervarings het hy homself ontwikkel tot ’n man wat kon lei, onderhandel en mense saamtrek. Dié eienskappe sou hom ver bring. In 1883 het hy staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geword. Ná die Britse anneksasie van die ZAR in 1877 het hy ’n leidende rol gespeel in die herstel van die republiek se onafhanklikheid en hom beywer om die Transvaalse volk saam te snoer. Maar ten spyte van sy belangrike posisie het daar steeds iets van die eenvoudige boer in hom gebly. In Pretoria het Oom Paul soggens vroeg opgestaan, sy pyp op die stoep gerook en selfs met verbygangers gesels. Op sy erf in Kerkstraat is groente gekweek, terwyl mevrou Kruger elke dag ’n melkkoei of twee gemelk het. Dan was daar nóg ’n kant van hierdie bekende staatsman. Reeds in die 1890’s het Kruger raakgesien dat die natuur onder die druk van “beskawing” begin swig. Hy het dele van die Oos-Transvaalse laeveld vir natuurbewaring laat uitsoek – gebiede wat later deel sou word van die Nasionale Krugerwildtuin. Van ’n jong seun wat die Groot Trek meegemaak het, tot ’n staatspresident en wêreldbekende figuur – Paul Kruger se lewe was verweef met van die belangrikste gebeure in die geskiedenis van die ZAR. Op 10 Oktober onthou ons die geboortedag van die man wat vir baie altyd Oom Paul sou wees.

Voorblad van Koerania - Oktober 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar