← Sport

· Deur Dia van Staden

Halfmaraton reuse lekkerte

Die Klein Reus Halfmaraton is op Saterdag 18 Oktober aangebied waar 80 atlete van oral in die omgewing aan dié wedloop deelgeneem het.

Halfmaraton reuse lekkerte – foto 3

Die Klein Reus Halfmaraton is op Saterdag 18 Oktober aangebied waar 80 atlete van oral in die omgewing aan dié wedloop deelgeneem het. Die Orania Atletiekklub, ʼn Atletiek Suid-Afrika (ASA) geregistreerde klub, bied jaarliks dié gewilde wedloop aan. Oraniërs het in hul atletiekdrag opgedaag en met trots deelgeneem. Die Klein Reus wedloop bestaan uit die keuse van 'n 10 km of 21.1 km roete. Christo Müller, klubvoorsitter, is in sy nappies met hoe die dag se verrigtinge verloop het. Hy en Karin, sekretaresse van die klub, vertel dat deelnemers veral die waterpunte gekomplimenteer het. “Die drinkgoed was koud en die gees was aansteeklik,” het die atlete gesê. Die roetes word jaarliks positief deur die atlete ervaar omdat dit grondpaaie insluit waarvan die Oranjerivier en die kanaalstelsel deel vorm. Die landerye is gedurig in die oog terwyl daar gekompeteer word. Na 2024 se baie warm dag was atlete verheug oor 'n koeler wegspring vanjaar. Die paar reëndruppels was beslis verwelkom. Christo en Karin is dankbaar vir klublede en ander vrywilligers wat hul tyd opoffer om die logistieke van so 'n wedloop moontlik te maak. Die roetewysers, administratiewe beamptes, Jacobus le Grange as aankondiger en ander rolspelers het die bestuur se hande sterk gemaak. “Ons is dankbaar vir die sukses en vir positiewe terugvoer. Sien almal en hulle hardloopmaats volgende jaar!” Uitslae vir die 10 km wedloop: 0:37:11 Deacon Hendricks (19) manswenner 0:48:20 Kerika le Roux (28) wen die vroueafdeling 0:57:43 Koos Le Grange (70) wen 70-79 afdeling Uitslae vir die 21 km wedloop: Harry Seekoei (50) van Kimberley Harriers wen die manswedloop met 'n tyd van 01:20:43. Nadine Britz (27) van Hartbeespoort Maratonklub se wentyd vir vroue is 01:39:22. Gavin Wiggil (61) het 'n wentyd vir sy ouderdomsgroep van 01:59:09 gehardloop.

Halfmaraton reuse lekkerte – foto 1
Halfmaraton reuse lekkerte – foto 4
Halfmaraton reuse lekkerte – foto 5
Halfmaraton reuse lekkerte – foto 2
Voorblad van Koerania - November 2025

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – November 2025, bladsy 12

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar
Foto by die berig: Linda laat die skeie tol
Sport/

Linda laat die skeie tol

Drie spanne is gekies om die Noord-Kaap tydens die meesterstoernooi in Kroonstad vanaf 28 September tot 2 Oktober te verteenwoordig.

Deur KoeraniaLees berig