← Gemeenskap

· Deur Wynvlieg Woltemade

Die Wynvlieg waai in: Groei, wat fluister… – Februarie 2026

Wynvlieg tel koppe, maar hoor tasse pak.

Wynvlieg tel koppe, maar hoor tasse pak. Hier is ’n snaakse ding van getalle: hulle praat hard, maar hulle sê nie altyd alles nie. Die Dorpsraad sê daar was 2 903 inwoners in Desember. Dis glo 4% minder as die jaar vantevore. Maar, terselfdertyd, nog steeds meer as ooit tevore... Groei én krimp, alles in dieselfde asem? Wynvlieg is nie goed met wiskunde nie, maar ek is goed met luister, en wat ek hoor, tel nie op ’n sensusvorm nie. Ek sit in koffiewinkels hier in Orania en hoor hoe mense sagter praat as gewoonlik. “Ek hoor hulle het vir die Amerikaanse vlugtelingprogram aansoek gedoen.” “Ja… en daai een se kinders ook.” “Maar moet dit nie herhaal nie.” Dis nie meer net skinder nie. Dis amper ’n tweede sensus. Een wat nie vra: Wie het hier aangekom? niemaar: Wie maak reg om te gaan? Ons noem dit nie op vergaderings nie. Dis nie in kennisgewings nie. Maar dis daar. Tussen koffie en koeksisters. Tussen trots en trane en planne. Wat my pla, is nie dat mense dit oorweeg nie. ’n Mens moet doen wat jy glo reg is vir jou en jou kinders. Wat my pla, is dat ons maak asof dit nie gebeur nie, en dat daar fout is met die wat wil gaan. Terselfdertyd groei ons dorp? Kom ons wees net eerlik. Ons vier 36 nuwe babas, en dis reg so. Dis hoop. Dis lewe. Maar ons praat nie oor die gesinne wat stil-stil dokumente invul nie. Die kamers wat leeg raak nie.

Die vriende wat skielik net “vir eers” groet nie. Dis asof ons net die aankomste aankondig, maar die vertrekke fluister... En nog snaakser: dié wat die hardste sê “ons mense vlug nie”, is soms die wat die meeste vrae vra oor hoe. Nie omdat hulle swak is nie. Omdat hulle mens is. Want sien, dis nie maklik om tussen droom en werklikheid te leef nie. Tussen ’n plek wat jy liefhet, en ’n wêreld wat jou kinders roep nie. Maar hoekom kan ons nie eerlik daaroor praat nie. Hoekom fluister ons oor iets wat duidelik hard genoeg bestaan? ’n Dorp groei nie net met geboortes nie. Hy groei met eerlikheid. En as ons net die mooi syfers vier, maar die moeilike waarhede vermy, dan groei ons dalk… maar skeef. Ek’s Wynvlieg Woltemade. Ek sit op Bielie die Bouer se bord en kyk hoe die getalle vorentoe wys, maar die spore in die stof soms anderkant toe loop. En ek wonder of die ware telling nie dalk lê in wat ons nie hardop sê nie.

Voorblad van Koerania - Februarie 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Februarie 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar