← Kultuur

· Deur Hannekie Verwoerd

En daar loop ek dit mis! 'n Volbloedmusiekblyspel

Hier is wat ek agterna vertel is... en indien jy soos ek DIE PROFESSOR VAN ORANIA misgeloop het, gaan jy ook nou sê: spyt kom altyd te laat.

En daar loop ek dit mis! 'n Volbloedmusiekblyspel – foto 5

Hier is wat ek agterna vertel is... en indien jy soos ek DIE PROFESSOR VAN ORANIA misgeloop het, gaan jy ook nou sê: spyt kom altyd te laat. Wie sou kon raai dat 'n klein dorpie in die Bo-Karoo soveel sangtalent kan oplewer? Met karakters soos 'n swendelaar-"Professor", 'n burgermeestersvrou met hogere kultuuraspirasies, die immerteenwoordige dorp-skinderbekke en 'n juffrou wat gewoonlik nie nonsens vat nie, kan die storie net interessant en later nog interessanter word. Die eerste toneel open met 'n voortvlugtige besig met "strategiese onttrekking" uit die soveelste warmwatersituasie, na die veiligheid van sy broer se kantoor. Na 'n woordewisseling waarin ouboet sy voet neersit, blaas die jongman die aftog en ons sien hom aankom op Orania stasie. Met sy aankoms in Orania is hy so gelukkig om die toevallige aanhoorder van die dorpskinderbekke se stories oor die nuut beplande konservatorium (l.w. nie KREMATORIUM soos sommige van my informante gereken het nie…), die direkteurskap daarvan wat aan niemand minder nie as 'n professor kan gaan nie en die wonderlike voordele daaraan verbonde. En siedaar! 'n Nuwe en blink gedagte skiet die jongman te binne... 'n professorskap? Waarom dan nie. En so ontvou die storie waarin ons sien hoe 'n swendelaar wat mense wil uitbuit vir sy eie sak, agterkom dat daar wel 'n liefde vir kultuur en 'n omgee vir mense in hom verskuil is. Iets van “gemeenskap” kom by hom tuis. Hy kom agter dat ander mense se geluk tog 'n snaar in sy hart roer wanneer hy hom besig hou met die oprigting van gestruktureerde musiekopvoeding vir die dorp se kinders en talente uit die gemeenskap na vore roep wat niemand geweet het bestaan nie. Dit alles gebeur natuurlik met die hulp van 'n jong musiekonderwyseres wat glad nie onooglik is nie… ‘n kragtige motivering vir die “Professor” om nie, getrou aan sy swendelaarsaard, te maak of hy besig is met grandiose planne terwyl hy entlik net sy sake volstop met belastingbetalersgeld nie. Die storie ontknoop in ‘n versoening tussen die twee broers toe die ouer een Orania kom red van sy jonger broer se bose en listige werkswyses en besef dat daar wel iets goeds in sy jonger broer se twyfelagtige talente sit. 'n Goeie einde word vir al die betrokkenes bewerk net voor daar nog 'n "strategiese ontrekking" aan die orde van die dag is. My informante is dit roerend eens: die musiekblyspel was 'n sukses! Geluk aan Marike van Huyssteen en Elsa Nothnagel wat die produksie saamgestel en geskryf het. Dit het in almal se smaak geval, was regtig genotvol, met verrassend goeie sangstemme en ons sien uit na wat volgende jaar op die planke gaan verskyn.

En daar loop ek dit mis! 'n Volbloedmusiekblyspel – foto 3
Die Musiekblyspel, Professor van Orania, is tydens Taalweek opgevoer. Frans de Klerk as Ben de Wet en Ruaan van Dyk as die Professor, het die gehoor laat skater. Lees meer op bl. 10. Foto: Karen J van Rensburg
Die Musiekblyspel, Professor van Orania, is tydens Taalweek opgevoer. Frans de Klerk as Ben de Wet en Ruaan van Dyk as die Professor, het die gehoor laat skater. Lees meer op bl. 10. Foto: Karen J van Rensburg
En daar loop ek dit mis! 'n Volbloedmusiekblyspel – foto 2
En daar loop ek dit mis! 'n Volbloedmusiekblyspel – foto 4
Voorblad van Koerania -Augustus 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Augustus 2026, bladsy 1

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar