← Gemeenskap

· Deur Koerania-redaksie

Elke huis het sy kruis

Elkeen het ‘n taak gehad, maar elkeen was meerendeels met hul eie gedagtes besig.

Elke huis het sy kruis – foto 1

Ek was daar. In Washington. Toe die kruise op 25 en 26 September 2026 afgelaai is en die name van slagoffers daarop geplak is terwyl afmetings gedoen word om 3000 simetries in die vorm van ‘n kruis, voor die Washington Mall, op die reuse grasperk, te plant. ‘n Handjievol vrywilligers, Lex Libertas bestuur, lede en New York Young Republicans Club (NYYRC) se verteenwoordigers het gewoel om te doen wat gedoen moes word. Elkeen het ‘n taak gehad, maar elkeen was meerendeels met hul eie gedagtes besig. Dit is mense wat ‘n bydrae gelewer het tot die land se ekonomie wie se name nou op kruise aangebring word. Ons onthou nie die tragedie en lyding omdat ons wil nie, maar omdat ons moet! Hulle is nie meer hier om die stories van onreg te vertel nie, daarom het hulle elkeen iemand anders se stem nodig. Hulle het aan die hand van ‘n misdadiger, moordenaar, wreedaard, boosdoener en onwelkome indringer gesterf. Jonk en oud, weerloos en sterk, arm en ryk – almal is deur ‘n geslepe niksnuts vermoor. Ruda, Piet, Dan, Niel en vele ander kan maar herkou aan hulle gevoellose uitlatings, agter hulle hoë heinings in sekuriteitskomplekse. Die Witkruisplanting is nie ‘n emosionele oproep tot geweld nie. Dit is ‘n herinnering daarvan. ‘n Herinnering dat meer as 400 raswette teen blankes, swart bemagtiging, grondonteiening, regstellende aksie en blatante rassisme ‘n realiteit is. Stilbly en suutjies praat is nie ‘n opsie nie. Dit is lafhartig! Daar moes lankal harder en wyer hieroor gepraat word. Ons Afrikaners is darem so ordentlik grootgemaak. Ons sê nie ander rasse sleg nie. Ons kritiseer nie onnodig nie. Ons druk deur, sonder om te kla. Ons byt vas, want in die sweet van ons aangesig! Die honderde mense wat die gebeure tydens die witkruisplanting aanskou het, het nader gestap en gevra wat daar aangaan. Na rasionele en feitlik korrekte vertellings van wat in SA aangaan is mense aangedaan, geskok, beter ingelig en sonder twyfel besorgd oor ‘n land wat ver van hulle af geleë is, maar skielik op die voorgrond is. Vreemdelinge het nie weggedraai nie. Hulle het begin hand bysit, help name plak, help kruise posisioneer, help afmeet en inkap, terwyl ware verhale deur gebroke slagoffers wat teenwoordig was, gedeel is. Toe ek daar staan kon ek nie wegkyk of wegdraai van die werklikheid nie. Jou DNS rebeleer. Jou neurologie wil dit nie absorbeer nie. Maar vlug kan jy nie. Dit is my mense en hulle het elkeen ‘n reg om onthou te word. Wit, swart of bruin. Elke moord is ‘n moord te veel! Dalk skink ons nie vandag koffie nie, maar vou ons hande en buig ons hoofde in gebed. Verootmoediging voor God!

Voorblad van Koerania - Oktober 2026

Uit die koerant

Hierdie berig het verskyn in Koerania – Oktober 2026, bladsy 2

Kry elke uitgawe by jou voordeur – R600/jaar