
ORANIA – Die infrastruktuurontwikkeling in Orania het 'n nuwe opwindende mylpaal bereik met die amptelike aanvang van die Oewerpad-projek (Diamantlaan). Aangesien Orania geen staatsubsidies ontvang nie, word hierdie belangrike pad vir toerisme en gemeenskapsgroei deur selfdoen-inisiatief en skarefinansiering gebou. Die projek het afgeskop met 'n stewige R1 miljoen as aanvangsbegroting. Dit is moontlik gemaak deur R600 000 wat die Orania Dorpsraad op 'n vorige serwituutpad bespaar het, tesame met 'n R400 000skenking van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy. Om die totale geskatte begroting van R3 miljoen tot R3,5 miljoen te dek, word daar gemik om nog R2 miljoen deur die gemeenskap en buite-ondersteuners in te samel. Amper R500 000 is reeds ingesamel. André van Heerden, Hoof van Ingenieursdienste by die Orania Dorpsraad, erken dat hy aanvanklik skepties oor skarefinansiering vir 'n padprojek was, maar dat die vordering sy verwagtinge oortref. Belangrike tegniese feite rondom die projek: Omvang: Die totale lengte wat geteer word, is Vervolg op bl. 2... ongeveer 700 meter. Tydlyn: Voorbereidingswerk het op 25 Augustus afgeskop. Die doelwitte is om Fase 1 (vanaf die betonpad tot by die Oewerlaan/Diamantlaankruising) voor 16 Desember 2026 te voltooi. Fase 2 (tot by die Oewer-ingang) sal sowat 3 maande duur en vroeg in 2027 afskop. Verkeer en Toegang: Tydens Fase 1 word Oewerlaan as 'n alternatiewe roete gebruik, terwyl inwoners toegang via sypaadjies kry. Vir Fase 2 word 'n dienspad langs die staalpyp oorweeg. Voordele & Stormwater: Teer bring minder onderhoud en beter beheer oor stormwater mee. Die kanaal is reeds gevorm en met gras gestabiliseer om stormwaterrisiko's van die Rooipad af te beheer. Onderhoud: Die Paaieafdeling van die Orania Dorpsraad sal die nasorg behartig. Daniël en Almie Coetsee, wat onlangs die Aan-die-Oewer onderneming by André en Karin Coetsee oorgeneem het, is uiters dankbaar dat ‘n gedeelte van die Oewerpad nou aandag geniet. “Die pad is ‘n gereelde klagte van ons gaste, aangesien hulle nie altyd die realiteite van selfwerksaamheid en die prioritisering van die aanwend van fondse verstaan nie. Die boufonds skep nou vir ons die geleentheid om ons gaste aan te moedig om ‘n stukkie pad te koop, sodat die droom van ‘n teerpad, uiteindelik tot by ons oordingang, ‘n werklikheid kan word,” vertel Daniël. Daniël het self as ‘n seuntjie dié klipperige stofpad met sy fiets skool toe gery. Hy is oortuig dat die verbetering van die pad ‘n positiewe invloed op die toerismebedryf sal hê, aangesien toerisme een van die fokuspunte vir Orania is. Hoe jy jou blokkie kan borg Koerania het reeds blokke 973 en 993 geborg! Jy kan ook 'n direkte bydrae maak: Besoek bou.orania.co.za. Kies en borg jou blokkie Laai jou Stadsbouer-sertifikaat af en volg die vordering regstreeks! Koerania borg blokke 973 en 993! Ons bou saam!





